‘n Daaglikse drafstap vir kinders met kanker
Hulle hardloop met 'n rede, eintlik 30 redes, want elke dag in September is daar 'n ander kind vir wie hulle die langpad aandurf.
In September val die kollig op kinderkanker en daarom is daar ‘n groep vroue in Drie Riviere Oos en Risiville wat elke dag die maand 5 km stap of draf.
Hulle noem hulself die Eat Pray Run Repeat span en hierdie is die tweede jaar wat hulle dit doen.
Bianca Gomez sê hulle het dit verlede jaar vir die eerste keer gedoen nadat ‘n tannie van haar, Denise Towell, hulle van Rainbows and Smiles vertel het.

Dit is ‘n nie-winsgewende organisasie wat gestig is om kinders met kanker, hul ouers en versorgers emosioneel, sosiaal en finansieel te ondersteun.
Die organisasie is in 2011 deur Bonita Suckling begin nadat haar seun, Jed, aan breinkanker oorlede is.
Spanne of individue kan vooraf inskryf om in September ten minste 5 km of 10 km per dag te draf of te stap.
Die drawwers kry elke dag ‘n ander naam van ‘n kind wat kanker het en so word daar aan 30 kinders gedink en hul stories versprei.
“Verlede jaar was dit net ek, my skoonsus Imarie Louw en my vriendin Tiffany Visser wat elke dag 5 km gedraf het. Ek is glad nie ‘n atleet nie, maar ons het volgehou,” vertel Bianca.
“Hierdie jaar het Imarie voorgestel dat ons dit weer doen en meer mense betrek. Al haar harde werk het vrugte afgewerp, want ons span is nou 19 sterk.”
Die groep bestaan uit Imarie Louw, Tiffany Visser, Bianca Gomez, Lischke Laubscher, Suzaan Nel, Marianne Van Wijk, Monia Sarakis, Anja Matthews, Wendy Symons Poppesqou, Karin Coetzee, Anel Vermaak, Michelle Van Heerden, Vivian Botes du Plessis, Guinevere Methven, Chane Le Roux, Adele Snyman Myburgh, Andrichia de Wet, Tenique Le Roux, Jenny Louw en Shareza Botes.
Behalwe dat hul elke dag met ‘n spesifieke kind in gedagte draf, het Imarie ook voorgestel dat hul elke dag ‘n ander kleur dra aangesien elke tipe kanker ‘n ander kleur strikkie het.
Bianca sê: “Ons draf nie as ‘n groot groep saam nie. Elkeen draf of stap deur die dag wanneer sy tyd kry. Sondag was ons ses wat saamgedraf het. Maar, ons dink daaraan om teen die einde van die maand almal se gesinne, oupas, oumas en honde saam te trek om saam 5 km te voltooi.”
Volgens haar kry hulle baie positiewe terugvoer terwyl hulle op die pad is. “Ons het al in tutu’s gedraf en eenkeer het ek selfs ‘n ballon op my kop vasgemaak. Mense stop langs ons om te hoor hoekom ons dit doen. So versprei ons elke kind se storie en maak ons mense bewus van die stryd wat soveel kinders stry teen kanker.”
Vir meer inligting oor die projek en om die stories te lees van die kinders vir wie daar elke dag gehardloop word, besoek gerus Rainbows and Smiles se Facebookblad.
