Disney karakters net waar jy kyk
Loslitdag 2021 is met baie pret by verskeie skole gevier op Vrydag, 3 September.
Loslitdag 2021 is behoorlik op 3 September gevier. Die tema was Disney en die laerskole het gekrioel van al die bekende en geliefde Disney karakters.

Eureka skool vir fisiese en verstandelik gestremde leerlinge in Vereeniging het baat gevind by hierdie groot fondsinsamelingsprojek.
Eureka se skakelbeampte, Anna-Marie Strydom het laat weet: “Ons is regtig trots op al ons ondersteuners wat hierdie Casual Day weer ‘n sukses gemaak het.
“Menigte skole en maatskappye asook individue van die publiek het regtig hierdie jaar ‘n groot verskil gemaak met die verkope van die plakkers. Deur die projek te ondersteun het hulle gehelp met die bewusmaking van persone met gestremdheid.

“Hierdie fondse help om in hierdie persone se daaglikse lewens ‘n verskil te maak.”
Sy het ook gesê: “Ons kan nie genoeg dankie sê vir al ons ondersteuners nie. Eureka skool wil net hê iedere een moet weet dat ons dit opreg waardeer.
“Dit maak ons harte warm om te weet daar is soveel mense wat omgee. Dankie vir so ‘n wonderlike gemeenskap.”
Die skool se personeel het in die gees van die dag soos Disney prinse en prinsesse aangetrek.
In Vanderbijlpark het die Laerskool DF Malherbe ook Loslitdag gevier.

Die skoolhoof, Willem Botha het gesê hy is baie trots op die skool se leerlinge wat ten spyte van moeilike finansiële situasies steeds die dag ondersteun het.
“Loslitdag bied die skool ook die geleentheid om die leerlinge bewus te maak dat elkeen ‘n verantwoordelikheid het teenoor die samelewing om ander te help.”
Die leerlinge se entoesiasme het geen perke geken nie en Vrydag was daar vele Disney karakters en ander superhelde te sien, van Superman tot by Tinkerbell, Mary Poppins en ‘n paar seerowers uit Pirates of the Carribbean.
Laerskool Kollegepark het ‘n opwindende Loslitdag gehad. Ook hier het almal van die personeel tot die graad RR-klasse volgens die Disney tema aangetrek.

Al die dag se toetse is voor eerste pouse afgehandel en daarna het almal in klasverband op die rugbyveld vergader vir Bokke Sports.
Daar is onder andere sak gespring en resies gehardloop.
Mickey en Minnie Muis het by die skool opgedaag tot groot vermaak van veral die jonger leerlinge.
Die graad RR-klasse het ook piekniek gehou.
Een van die onderwyseresse, Marlize Els het gesê: “Dit was ‘n baie lekker dag vir al die kinders, want dit was uit die normale roetine en het hulle die kans gegee om bietjie ontslae te raak van al die druk van die kwartaal.”
Gaan besoek gerus die skole se Facebookblaaie vir meer foto’s van al die interessante kostuums wat die leerlinge en onderwysers gedra het.
