VANDERBIJLPARK. – Laerskool Emfulenipark, een van die jongste skole in Vanderbijlpark, het hom reeds bewys as ‘n spogskool en leier op vele terreine.
Aanlyn-registrasies vir 2022 se Graad 1’s is nou oop. Ouers wat hul kleingoed by Emfulenipark wil inskryf, word aangeraai om so gou as moontlik aanlyn te registreer by gdeadmissions.gov.za. Hierdie geld slegs vir Graad 1-registrasies.
Alle ander grade (van Graad RR tot Graad 7) moet direk by die skool aansoek doen. Besoek Laerskool Emfulenipark op die hoek van Fir- en Olienhoutstraat in SE3, Vanderbijlpark om kinders in ander grade te registreer.
By Emfulenipark word elke kind gehelp om tot hul volle potensiaal as mens te ontwikkel. Die skool beskik oor hoëgehalte opvoeders en voldoende fasiliteite om leerders in hulle ontwikkeling te lei. ‘n Hoë akademiese standaard word gehandhaaf en die kleingoed se kritiese denke en probleemoplossing word ook aangemoedig. Die skool neem gereeld aan Olimpiades, kompetisies en wetenskap-ekspo’s deel om die jong breintjies aan soveel interessante stimuli as moontlik bloot te stel.
Daar is ook ‘n goed toegeruste mediasentrum met ‘n volledige naslaanafdeling waar die leerders in vrede en veiligheid kan werk. Die skool se rekenaarsentrum maak ook seker dat die kleinspan van jongs af aan nuwe tegnologie blootgestel word.Die skool se netjiese sportterreine is ‘n miernes van bedrywigheid met vele sportsoorte waaruit leerders kan kies, onder andere atletiek, krieket, landloop, hokkie, netbal, rugby, tennis, boogskiet en skaak. Mini-hokkie, -krieket en -netbal word ook hier afgerig.
Op kulturele gebied kan die leerders deelneem aan koor en spreekkoor, redenaars, konsert en revue. Deelname aan kunsfeeste word ook sterk aangemoedig. Emfulenipark se leerlinge spog gesamentlik juis met meer as 193 A++ toekennings en nóg tientalle A’s en A+’e by die afgelope Vaaldriehoekse Kunsfees – ‘n bewys dat dié skool op kulturele gebied kook! Emfulenipark is ook een van die min skole wat nog ‘n skoolkoerant – Boetjantjie – uitgee en waar die artikels deur die leerlinge self geskryf word.Een van die skool se slagspreuke is: “Emmieland… hier speel, leer en groei ons saam”, daarom word klem ook op gereelde pret-aktiwiteite geplaas, terwyl die kleinspan ook aangemoedig word om saam met die skool by uitreike aan bejaardes, mense in nood en by projekte vir die versorging van diere betrokke te raak. Emfulenipark staan ook uit as die skool wat drie pouses het i.p.v. net twee.
Registreer jou Graad Eentjie vandag nog by gdeadmissions.gov.za en maak seker jou kind word deel van ‘n wenskool!




![]()
********************************************************************************************
