Herwinde items ten bate van mense in nood verkoop
Active Angels, 'n liefdadigheidsorganisasie wat hom vir mense in nood beywer verkoop herwinde (“upcycled”) items ten bate van haweloses en behoeftiges.
VEREENIGING. – Magda Lourens, stigter en direkteur van Active Angels sê die doel agter die organisasie se “skatkis”-projek is om mense “’n visstok eerder as vis te gee.”
Mense in nood help danksy die projek nou om ou items te herwin en te restoureer en wanneer die werk voltooi is word dit deur Active Angels verkoop.
Op dié wyse word mense in nood gehelp om selfonderhoudend te raak.
Met die behoeftiges se hulp word ou items, afvalmateriaal, sowel as nuttelose en ongewenste produkte in nuwe produkte van ‘n beter gehalte en artistieke waarde omskep.
Hierdie herwinnigsproses staan as “upcycling” bekend. Volgens Lourens word die items by Active Angels se winkel op haar erf by 28 Keistraat in Drie Riviere verkoop.
Die winkel is oor nawke oop (Saterdag en Sondag van 09:00 tot laat). Die inkomste wat op hierdie wyse gegenereer word, word volgens Lourens gebruik om “manna pakkies” (nutriënte in poeiervorm wat met water gemeng word) aan te koop.
“Ons winkel is naweke oop en ons nooi mense hartlik uit om te kom kyk wat ons alles hier verkoop. Elke R20 kan ‘n gesin voed,” vertel Lourens. Skakel Magda Lourens by 083 782 4895 vir meer inligting.

