Lumiére hoof se kolhou verjaardag
Die Lumies het weer behoorlik feesgevier met hul hoof se verjaardag.
VAALPARK. – Die Lumiére Primêre Skool in Vaalpark het hul skoolhoof, Lihan Kriel, weer verras en bederf op sy verjaardag.
Op 18 September het die skool in klasverband op die sportveld vergader.
Die tema vir die dag was Lihan se gunsteling sport, gholf.

Almal het eers luidkeels vir hul meneer “Happy Birthday” gesing alvorens hy ‘n ekstra-ekstra groot gholfbal moes stukkend slaan.
Die bal was gevul met springmielies en het ook ‘n koevert bevat met ‘n koopbewys wat die leerders ingesamel het.
Vir die leerlinge was daar vir elkeen ‘n groen oliebol (doughnut) wat simbolies was vir ‘n kolhou (hole in one) op die gholfbaan.
Die personeel het later by die skool se lapa bymekaar gekom wat vir die dag herdoop is tot Lihan’s Klubhuis.
Die gholftema is verder gevoer met die versierings, die club sandwiches op die spyskaart en die grasperkgroen verjaardag koek kompleet met ‘n vlaggie.
Almal het die hoof se verjaardag geniet en sy kantoortafel was van hoek tot kant gepak met verjaardagkaartjies en geskenke. Hy het ook elke oggend gedurende die week ‘n geskenk gekry waarmee hy sy kantoor kan versier.
Gaan loer gerus op op die skool se Facebookblad @Superlumie om die verjaardagvideo te sien.

