SHS skrywers skitter
Sasolburgers skryf vir hul plek in SA Akademie vir Wetenskap en Kuns publikasie los.
SASOLBURG. – Hoërskool Sasolburg High School (SHS) het met trots bekend gemaak dat ‘n leerder en ‘n oud-leerder se skryfstukke weer in die nasionale publikasie vir hoërskoolleerlinge se poësie en prosa (POORT) opgeneem is.
“Die Poort-Skryfkompetisie ‘n projek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat ten doel het om skeppende skryftalent in Afrikaans by hoërskoolleerders aan te moedig en sodanige kreatiwiteit uiteindelik te waardeer en aan ‘n groter gehoor bloot te stel.
“Hierdie kompetisie vind al vanaf 1971 plaas en gaan jaarliks van krag tot krag!” – www.akademie.co.za
Jonette van Rooy was in 2020 SHS se Verteenwoordigende Raad van Leerders Voorsitter en het matriek met sewe onderskeidings geslaag.
Dis die derde jaar dat daar van haar skryfwerk in die POORT opgeneem word.
Vier van haar gedigte naamlik: 2020, Carlo Marcus, Sy sien dit nie en Teenwoordigheid sal in Poort 2021 gepubliseer word.
Twee van haar opstelle, Mense: wilde diere? en Poppehuis word ook gepubliseer.
Marli Redelinghuys, is hierdie jaar ‘n matriekleerling by SHS en tans onder die skool se Top 10 matrikulante.
Haar opstel, Wanneer stiltes praat, word ook in Poort 2021 opgeneem.
Inskrywings is reeds oop vir die Poort-skryfkompetisie 2022.
Skole kan begin om leerders in grade 10, 11 en 12 se kreatiewe skryfwerk aan te stuur na die Akademiekantoor by akademie@akademie.co.za.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 25 Februarie 2022. Meer inligting beskikbaar by www.akademie.co.za

