Inwoners gatvol vir swak padtoestande!
ORANJEVILLE. - Die plaaslike gemeenskap het nou genoeg gehad van die swak padtoestande en het vanoggend tot aksie oorgegaan.

Die R716 Deneysville/Heilbron T-aansluiting tot na die VKB Jim Fouche-pad is vanaf 06:00 met trokke, ‘n reuse-planter, plaaswerktuie en ander voertuie versper.
Die organiseerders sê hulle gaan die pad versper totdat die persoon verantwoordelik vir die instandhouding en die huidige toestand van die pad ‘n memorandum by die VKB Jim Fouche Silos in ontvangs neem.
Daar was reeds vooraf by die Burgemeester en op provinsiale vlak gepleit om iets aan die toestand van die paaie te doen en die Burgemeester is ook vooraf gewaarsku oor vandag se versperring van die paaie.
Daar was egter net aan die organiseerders gesê: “Your complaint is not within our jurisdiction of Metsimaholo Local Municipality, it is a provincial matter”.
Die Taxi Association, opposisie partye en die Boere Vereniging staan saam met die hoop dat daar aandag aan die swak toestande van die paaie gegee sal word. Hulle het ook glo die ondersteuning van die inwoners gekry vir vandag se protesaksie.


