Vaalpark Primêr se prettige boekedag
So word die jongspan speel-speel geleer om lees te geniet en boeke te waardeer.
VAALPARK. – September is as leesmaand gevier en op 29 September het Vaalpark Primêr ‘n spesiale boekedag gehou.
Elke leerling kon hul gunsteling boek saambring skool toe en volgens hul gunsteling karakter aantrek.

Die onderwysers het ook saamgespeel en in vrolike uitrustings by die skool opgedaag, wat karakters van Winnie the Pooh tot by Mickey Mouse, Liewe Heksie en ‘n Feëprinses vertoonwoordig het.
Die leerlinge het ook ‘n wye verskeidenheid van karakters verteenwoordig, met vele seerowers, hekse, prinsesse en Harry Potter karakters te bespeur.

Een van die graad 3 leerlinge se gunstelingkarakter is ‘n polisieoffisier.
Sy het nie net soos ‘n polisielid aangetrek nie, sy het het ook met die SAPD se honde-eenheid gereël dat een van hul hondehanteerders en sy hond ‘n besoek by die skool kom aflê.
Polisiehond en hanteerder het natuurlik vir groot opgewondenheid onder die leerlinge gesorg.
Dit het ‘n alreeds prettige dag, nog lekkerder gemaak. Die dag is aangebied in ‘n verdere poging om ‘n liefde vir lees en boeke by die leerlinge aan te wakker.
