Local newsNewsNews

Hennie en sy honde, dit lyk al beter

Enige een wat verder hulp kan verleen, kan Danielle by 082 650 6011 skakel. Die grootste uitstaande projek is om Hennie van ‘n badkamer te voorsien.

VANDERBIJLPARK. Hennie Cronjé (65) se storie het Vaalweekbladlesers voor die winter aangegryp. Hy het op daardie stadium alleen met 14 honde op ‘n oorgroeide stukkie aarde in ‘n ou karavaan gebly.

Die heining was geroes en plek-plek omgestoot nadat vloedwaters aan die begin van die jaar oor die stuk aarde gespoel het.

Danielle Van Rooyen van Vaalpets het gehelp waar sy kon om die honde te steriliseer, maar Hennie het sy hele pensioen gebruik om die honde van kos te voorsien.

Daar is vir hulp gevra en na verskeie donasies en onderhandelings was daar genoeg fondse om die plek skoon te maak.

Opruiming begin

Danielle sê drie werkers het vir ‘n week lank elke dag gewerk om al die vuilgoed weg te ry en die oorgroeide gras en bosse af te sny.

Genoeg staal is ook geskenk om vir die twee groter honde, Ouvrou en Lummel, ‘n aparte kamp te bou waar hulle kan rondhardloop.

Die twee honde het ook nou elkeen ‘n mooi hondehok binne in die kamp.

Hennie en Lummel.

Voorheen moes die twee in ‘n sinkgebou agter die karavaantjie slaap, omdat hulle met die ander kleiner honde baklei het.

Naas die opruimingswerk en die hondekamp was een van die ander prioriteite om te verseker dat vloedwater nie weer by Hennie se blyplek kan instroom nie.

Gevolglik is daar ‘n platvorm met bakstene en sement gebou waarop die karavaan gelig sou word.

By nadere ondersoek is daar egter gevind dat die karavaan in ‘n baie slegte toestand was en uitmekaar sou val indien dit gelig sou word.

Die werf met die karavaantjie waarin Hennie en sy honde gebly het voordat Vaalpets ingegryp het.

‘n Nuwe huis

Daar is derhalwe besluit om die sinkgebou ordentlik uit te skrop en te verf alvorens dié ou skeepshouer met ‘n hyskraan op die platform gelig is.

Daar is ook ‘n nuwe hek vir die erf opgesit. Danielle sê al wat hulle nog moet doen is om van die heining se drade weer regop te trek.

Die honde

Hennie is baie lief vir diere, veral honde, maar het ingesien dat hy nie vir al die honde kan sorg nie.

Die meeste van sy honde is nou by Vaalpets waar mense hulle kan aanneem.

Behalwe vir die groot honde, Ovrou en Lummel, het Hennie net vir Pienkie Poenk, ‘n bokkie hondjie wat ‘n susterskind van hom agt jaar gelede uit ‘n asblik gered het, ‘n worshondjie, ‘n Jack Russel-kruising en ‘n swart hondjie met die naam van Kwassie, gehou.

Vaalpets het gesorg dat al die honde gesteriliseer is en voorsien ook die honde van goeie kos.

Gaan lees gerus Vaalweekblad se vorige berigte oor Hennie en sy honde by https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/94119/hennie-en-sy-honde-benodig-hulp/  en https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/95718/hennie-en-sy-honde-goeie-nuus-maar/.

Enige een wat verder hulp kan verleen, kan Danielle by 082 650 6011 skakel. Die grootste uitstaande projek is om Hennie van ‘n badkamer te voorsien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button