‘n Uitdaging aan Drie Riviere: Ruim self op!
“Verder lyk dit of die veld net mooi een bier ver van die bottelstoor en een burger ver van KFC af is."
VEREENIGING. – Klagtes word gereeld gehoor van inwoners van Drie Riviere wat ontevrede is oor die rommelstrooiing in die veld by Dee-rylaan. Voetgangers gooi hul bottels, blikkies en kospapiere hier weg, en sommige inwoners is ook al gesien waar hulle hul huishoudelike vullis hier kom stort het.
Een van Drie Riviere se trotse inwoners, mnr. Etienne Viviers, sê dit gaan sy verstand te bowe dat mense hul gemors sommer so in die veld gaan gooi.
“Verder lyk dit of die veld net mooi een bier ver van die bottelstoor en een burger ver van KFC af is.
Die houers word dan net daar in die veld uitgegooi. Die probleem is ook dat die blou-ape die sakke oopskeur en die gemors versprei,” sê hy.
Etienne en sy buurman het onlangs die veld in Dee-rylaan gaan skoonmaak, en hoewel daar nog baie werk is, lyk dit al klaar stukke beter.
“Ons het 13 sakke vol vullis opgetel vir die vullistrok, wat dit die volgende dag sou kom wegry. Ek stel nou die uitdaging aan mede-inwoners, veral dié wat so baie praat maar niks doen nie, om julle omgewing ook te begin opruim. Ek weet mense voel hulle betaal reeds vir munisipale dienste, maar as ELM nie eers voor ‘n verkiesing die gemors kan optel nie, gaan hulle dit definitief ook nie later doen nie.
“As jy nie self kans sien om skoon te maak nie, gee ‘n rol swartsakke vir een van die manne wat op die straathoeke sit en werk soek, en betaal hom om dit te doen. Sodoende is dit ‘n wen-wen situasie en almal kan weer begin trots voel op waar hulle bly. Ek wag,” is Etienne se uitdaging.

************************************************************************************************************************
