Local newsNewsNews

Kortfilm in Meyerton geskiet

'n Toegewyde span werk hard om 'n kortfilm voor Kersfees 2021 die lig te laat sien.

MEYERTON. – Die dominee het die blink idee gehad en van sy gemeentelede het geweet wie om nader te trek om die droom ‘n werklikheid te maak.

Na maande se beplanning was daar ‘n draaiboek op die tafel en ‘n hele span vrywilligers gereed om ‘n Kersverhaal van ‘n ander aard te begin skiet.

Francois van Zyl, voltydse predikant van NG Olyfdal en nou deeltydse amateur filmmaker, staan aan stuur van sake en sommer die props ook, terwyl professionele fotograaf, Francois Booyens, sy lyf kameraman en regisseur hou.

Kyle Lauf het die draaiboek geskryf en Casper Muller word ingespan in die hoofrol van die kortfilm wat tans as Fulfilled Promises bekend staan.

Vaalweekblad se groot vriend en self ook ‘n professionele fotograaf, Albertus Kriel sê hy is die “muscle man” op die stel wat al die swaar goed moet ronddra.

Francois beduie vir sy dogters, LIze, Olivia en Cara, wat hulle vir die volgende skoot moet doen. Foto: Charl van Straaten

Die langnaweek in September was die ideale tyd om met die verfilming te begin.

Die verhaal speel af in ‘n post apokaliptiese wêreld, waar alles vervalle en verlate is.

Francois Booyens sê dis eintlik hartseer dat hulle nie nodig gehad het om ‘n stel te bou nie, hulle het al die verlate, vuil en vervalle areas sommer op hul voorstoep in Meyerton en in Vereeniging gevind.

Die span wil nie te veel van die storielyn verklap nie, maar glo dat die kortfilm ‘n universele boodskap van hoop sal bring.

Dié visuele storie behoort so teen middel Desember op YouTube vrygestel te word.

“Ons hoop om dit die eerste keer by die kerk as ‘n opelug vertoning aan te bied,” het Francois vertel.

Hulle het die verfilming geniet en hy het sy drie dogters ook nadergetrek om van die rolle te vertolk.

“Ons is ‘n groep amateurs wat werk met wat ons het. Dis net vir ons belangrik om ’n boodskap van hoop te bring, veral in die huidige omstandighede in Suid-Afrika,” het hy bygevoeg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button