Wie is nou eintlik in beheer?
Drie pekinese + 'n papegaai = Baie drama en stertswaai-lawaai.
Ek en Ma deel ‘n huis met drie honde en ‘n papegaai.
Pastoortjie, die papegaai is by uitstek ‘n drama-queen. (Ons is nie seker of Pastoor ‘n hy of ‘n sy is nie.)
Allegeval, hy het die neiging om te begin gesels en te fluit sodra hy hoor ek is besig met ‘n telefoniese onderhoud.
Hy luister ook hopeloos te veel gesprekke af. Nou die dag “hoes” hy vreeslik. Ma loop verby en vra: “Is jy siek Pastoortjie?”
Antwoord hy so ewe: “Net Covid.”
Pastoortjie is gek na ou musiekrolprente. Ek probeer ‘n storie skryf en hy trek los met ‘n onaardse geskree.
“Ag nee magtag, Pastoortjie. Jy raas!,” skree ek gang af.
“Nee,” sê Ma, “luister mooi. Hy maak die meisies na wat so gil in Seven Brides for Seven Brothers toe die broers hulle ontvoer het.”
Klink steeds net vir my na lawaai, maar Ma sê ek het die movie net te lanklaas gekyk.
Nie lank daarna nie, begin hy fluit. Ritmies. Iets aan die gefluitery wil vir my bekend klink. Ek kyk vir Ma.
“Sound of Music. Dis wanneer die kaptein die kinders roep deur op die fluitjie te blaas.”
Wraggies ja. Ek kan dit ook hoor. Net jammer Pastoortjie fluit nou Sound of Music se fluitjies as ek ander DVDs probeer kyk.
Die honde is net so vol dinge en geite.
Her Royal Naughtyness Heidi is die introvert.
Sy kan vreeslik snork en het die neiging om plassies in die huis te maak en dan ‘n vreeslike onskuldige gesiggie op te sit.
So het ons al die jare vir ou Trompie blameer, maar dié is begin Augustus oorlede.
Dis toe dat ons besef wie is nou eintlik die skuldige een.

Baba Bessie en Kleinsus Antjie is amptelik halfsussies.
Dié dat Antjie soos ‘n “mini me” van Bessie lyk.
Bessie maak net wat sy wil, wanneer sy wil en soos sy wil. In haar lewe het sy al baie dinge aangejaag.
Soos die dag met die poeding. Ma het in die sitkamer gesit en brei toe ek daar inkom.
Sy vra ek moet vir haar appelpastei met room gaan inskep.
Ek het die bakkie op die tafeltjie langs haar neergesit. Ma wou net gou die ry uitbrei voordat sy eet.
Volgende oomblik raas Ma met Bessie. Kort daarna is Ma in die kamer, poedingbakkie in die hand.
“Kyk wat maak Bessie. Ek brei nog en toe hoor ek sy lek iets. Toe ek so kyk toe is sy besig om die room van my poeding af te lek!”
En dan is daar Kleinsus Antjie. Jongste. Slimste. Kleinste. Die kruppel enetjie met die leeuhart. Alles behoort aan haar.
Kan haar ook vreeslik vinnig wip. Soos toe Bessie nou die aand hier by haar bek kom snuif-snuif net toe sy lekker wou gaap.
Bessie was heilig oortuig Antjie het iets lekkers gekry om te eet terwyl sy wat Bessie is buite was.
Was glad nie die geval nie, maar sy wou seker maak. Die gesnuiwery het Antjie nie aangestaan nie.
Summier haar nekhare laat rys en toe is sy weer kwaad en reg vir ‘n stoeigeveg.
Lyk baie snaaks as die kleine Antjie dink sy kan die grote Bessie onderstebo duik.
Nooit ‘n vervelige oomblik in die huis met hulle saam nie, maar mens wonder nogal wie is nou eintlik in beheer? My geld is op Antjie!
