Local newsNationalNewsNews

Tollie brei vir liefdadigheid, benodig wol asseblief

Tollie Schlechter is op haar gelukkigste wanneer die breinaalde klik. Al wat sy vra is genoeg wol om elke dag te kan brei.

VANDERBIJLPARK. – Tollie Schlechter is ‘n pensioenaris van jare maar nie van hart nie. Sy is altyd doenig met iets. So bak en kook sy gereeld kos en lekkernye om vir hul bure in die aftreeoord uit te deel.

Haar grootste passie is egter om te brei. “As ons gaan ry, gryp ek eerste my breiwerk en dan my handsak,” vertel sy vrolik.

Tollie was in graad 1 toe hul huishulp haar leer brei het met twee lang spykers. Van toe af klik die naalde nog aanmekaar.

Brei is haar eerste liefde, maar sy kan ook ‘n hekelpen vinnig laat flits en het al vir haar hele familie komberse gehekel. Op ‘n stadium het sy 120 kniekombersies gehekel vir ouetehuise in Oudtshoorn.

Van die truie met hul bypassende mussies wat Tollie gebrei het.

Sy het destyds baie hartseer en trauma beleef en van Alexandria in die Ooskaap na Oudtshoorn verhuis.

In Oudtshoorn het ‘n vriendin Tollie aangespoor om te help om truie vir minder bevoorregte kinders te brei.

Op aandrang van haar kinders het sy sowat 12 jaar gelede terug getrek Vanderbijlpark toe maar steeds vir jare lank truie gebrei vir die Rooikruis in Oudtshoorn.

Onlangs het sy onder andere komberse en serpe gebrei vir die Rotary Klub van Vanderbijlpark se rekord pogings.

Sy het 30 stroke gebrei vir die grootste kombers in 2019. “Ek het net bietjie laat daarvan gehoor, anders kon ek meer vir hulle gebrei het,” sê sy.

In haar huis is daar altyd ‘n klomp truie klaar en gereed om uitgedeel te word.

“Ek deel uit soos ek van nood hoor. Ek het in my lewe al baie kanse gekry, en daarom deel ek graag uit wat ek het,” vertel Tollie wat al ‘n gewapende rooftog oorleef het en ook die trauma van ‘n geweldadige huwelik moes verwerk.

Ten spyte van die seer in haar verlede, leef sy steeds elke dag met oorgawe. Geniet sy haar kleinkinders se kuiers en maak sy die een na die ander trui en mussie onder haar vlytige vingers klaar.

Die enigste probleem is dat sy bykans haar hele pensioen aan wol spandeer. “Ek brei altyd met double knit, maar wol het baie duur geword die laaste tyd.”

Sy kan haar nie indink dat sy moet ophou brei nie. “Dit hou my hande en my brein besig. Ek moet net brei en dit is vir my lekker om te weet dit wat ek brei hou ander warm,” vertel sy. 

Tollie is reeds besig om truie en mussies te brei vir die winter van 2022. Indien enige iemand vir haar double knit wol kan skenk sal sy dit baie waardeer.

“Enige kleur, behalwe die donker kleure soos swart, bruin en donker blou, ek kan dit nie meer so lekker sien nie,” beduie sy terwyl sy trots die truie met hul bypassende mussies op die tafel uitpak om afgeneem te word.

Elke trui sal wel die een of ander tyd ‘n minderbevoorregte kind warm maak. Indien jy kan help met wol, kontak Tollie by 082 676 8833.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button