NationalNews

‘Ons harte is gebreek,’ sê ma van twee nadat hul pa verdrink

"Steyn was 'n uitstekende pa vir sy kinders en 'n ware 'community hero'. Hy het 'n groot hart vir mense gehad en wou altyd almal help"

VANDERBIJLPARK. – Ruikers en boodskappe van medelye is verlede Saterdag voor die huis van mnr. Steyn Saayman in Kemptonpark vasgemaak nadat hy in ‘n fratsvoorval in die Vaaldriehoek verdrink het.

Saayman het die naweek van 9 Oktober ‘n huisboot vir hom en sy twee kinders, Michaela (16) en Tyler (9), gehuur vir ‘n pretnaweek op die Vaalrivier. Hulle het die Saterdagmiddag omstreeks 16:00 rustig op die rivier in die Vaalview-omgewing naby Stokkiesdraai gevaar toe ‘n ander boot glo vinnig verbygevaar en groot golwe veroorsaak het. Saayman, wat in daardie stadium op die voorpunt van die boot gestaan het, het sy balans verloor of is deur ‘n golf getref en het oorboord geval.

Michaela kon daarin slaag om die huisboot om te draai en ‘n tou na haar pa te gooi. Hy kon dit egter nie raakvat of terugswem boot toe nie en het binne ‘n paar minute onder die water verdwyn. Polisieduikers het dadelik nadat hulle die noodoproep ontvang het, na Saayman begin soek maar sy liggaam is eers drie dae later, op Dinsdag 12 Oktober, in die rivier gevind en aan wal gebring.

“Ons is steeds geskok en ons harte is gebreek,” het mev. Renee Saayman, sy vrou, Sondag aan Vaalweekblad gesê. Sy het bygevoeg dat Michaela reeds 16 is en nie 11 soos wat verkeerdelik in sommige publikasies berig is nie.

‘n Vriend van Saayman sê hy was ‘n besonder groot man en baie gesteld op veiligheid en versigtigheid. “‘n Huisboot is ‘n stadige, stabiele vaartuig en niemand sou kon dink dat mens op die Vaalrivier se rustige waters afgeslaan sou kon word nie,” sê hy.

Saayman was die afgelope jare by sekuriteitsfirmas betrokke en was veral bekend in Sandton, waar hy risiko-bestuurder vir ‘n groot sekuriteitsonderneming was, wat beveiligingsdienste aan sakepersele en ‘n hotel verskaf. Hy het ook die persoonlike beveiliging van ‘n maatskappydirekteur en sy gesin behartig. Hy het voorheen vir ‘n tyd lank in die buiteland gewerk, onder andere in Indië, waar hy die persoonlike lyfwag van ‘n vierjarige seuntjie was.

“Steyn was ‘n uitstekende pa vir sy kinders en ‘n ware ‘community hero’. Hy het ‘n groot hart vir mense gehad en was altyd een van die eerstes om te reageer as daar verdagte gebeure of probleme in sy woonbuurt was. Hy het almal graag gehelp, ongeag van ‘n mens se kleur of stand in die gemeenskap. Hy sal ook onthou word vir sy humoristiese sêgoed waarmee hy almal kon laat lag,” sê die vriend.

* Polisiewoordvoerder kaptain Mavela Masondo het by navraag gesê die omstandighede rondom Saayman se verdrinking word deur die polisie ondersoek.

Wyle mnr. Steyn Saayman en sy kinders, Michaela (16) en Tyler (9).
Polisieduikers op die toneel waar na mnr. Saayman se liggaam gesoek is.

********************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button