Local newsNationalNewsNews

Spoed is in Calvin se bloed

Calvin Laubscher wou van kleins af jaag. Op 11 is hy 'n bedrewe Go Kart kampioen met baie resies ondervinding.

MEYERTON. – Calvin Laubscher(11) se oë skitter as hy oor sy grootste passie, Go Kart resies, praat.

Hy het onlangs ‘n derde plek behaal in die 0.14 F400 Go Kart Kampioenskappe wat in KwaZulu-Natal gehou is.

In 2021 het hy ook twee nuwe Suid-Afrikaanse rekords agter sy naam geskryf. Die een by die Zwartkopsbaan in Pretoria en die ander by die VKC baan in Vereeniging.

Calvin, sy sussie Vinay, sy afrigter Neil Bassilio en sy ma, Jorinda Laubscher. Foto; verskaf

Sy ma, Jorinda, sê Calvin het met sy elektriese motor gery lank voordat hy kon loop. Die mannetjie het spoed in sy bloed.

Sy pa, Collin het op ‘n stadium in die Pro Kart Super Single Endurance klas deelgeneem, terwyl sy ma en jonger sussie, Vinay ook in hul onderskeie klasse al medaljes losgery het.

“Calvin het ‘n natuurlike talent. Jare terug het my man se stiefpa al gesê Calvin gaan nog ‘n resies legende word. Hy het baie vinnig die elektriese motors ontgroei, maar toe hy met motorfietse wil begin jaag het ek voet neergesit,” beduie Jorinda.

Calvin doen nou al vier jaar lank Go Karting. Hy sê dit het hom geleer om te konsentreer, om vinnig te dink en vinnig planne te kan maak.

“’n Mens moet ook fiks wees as jy in Go Karting wil meeding. Iemand wat so paar maande net stilgesit het en dan gaan probeer ry, gaan nie ‘n jolly resies hê nie,” verklaar hy beslis.

Hy bly fiks deur so vyf dae in ‘n week te gaan fiets ry, deur te swem en dan ook gereeld by die baan te gaan oefen.

“‘n Baan rondte is so tussen 1 na 1.4 km lank. Ons het nou die dag uitgewerk dat Calvin hierdie jaar alleen omtrent 1 400 km op die baan afgelê het,” vertel Jorinda.

Calvin voor die vertoonkas met al die trofees wat hy in 4 jaar verower het. Foto: verskaf

Vir 2021 is daar nog twee wedrenne oor. Die een vind op 30 Oktober in Vereeniging plaas en die laaste een op 24 November in Benoni.

Hierdie is Calvin se laaste jaar in die o.14 kategorie. “Dis bietjie te stadig vir my. ‘n Mens kan net ‘n top spoed haal van 97 km per uur,” sug hy.

Hy het spesiale toestemming gekry om volgende jaar in die hoërskool afdeling te mag deelneem.

Wanneer Calvin nie besig is met Go Karting nie, speel hy aanlyn speletjies en lees graag.

“’n Boek ‘n dag,” vertel hy met ‘n glimlag.

Hy is ook gefokus op sy akademie, want na skool wil hy universiteit toe gaan en vir ‘n radioloog gaan studeer.

Dis nou te sê as hy nie eers ‘n Formule 1 wêreldkampioen word nie.

Alhoewel die gesin verlede jaar na Meyerton verhuis het, is Calvin ‘n trotse leerder van die Laerskool DF Malherbe en gaan hy en sy sussie hul laerskoolloopbane in Vanderbijlpark voltooi.

Daarna gaan hy Dokkies toe het die kranige leerder klaar besluit. Tot dan gaan hy en sy Go Kart span, Mach 3, hul bestuursvernuf en vaardighede op die baan slyp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button