Vaal drama legende word 80. Geluk Trudie!
Sy het baie diep spore vir drama en kuns in die Vaaldriehoek getrap ... en elkeen van daardie spore is met empatie en deernis gedoen.
VEREENIGING. – Trudie Hagen hou van kuier. As kind het sy baie rondgeloop, oral gespeel en maats gemaak.
Sy was 9 jaar oud toe besluit haar ma sy moet bietjie rigting kry. So het die jonge Trudie begin dramaklasse loop by die nimlike Miems de Bruyn.
Miems het later jare groot bekendheid verwerf onder andere as Kriekie in Nommer Asseblief.
“Ek was haar eerste leerling”, onthou Trudie, “ek het met ‘n fiets na my dramaklasse gery. Miems was my mentor tot in matriek. Ons het vriendinne gebly tot met haar afsterwe in 2010. Ek het selfs ‘n huldeblyk op Miems se begrafnis gelewer.”
Na skool het Trudie drama by die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer.
“Dit was ‘n familie tradisie. Al ons neefs en niggies het op Maties gaan swot. Een van ons voorvaders was Kanselier van die universiteit,” beduie sy en lag lekker.
Onder Trudie se klasgenote was daar mense soos die aktrise Christine Basson, akteur en regisseur Franz Marx, dramaturg Pieter Fourie en aktrise Marie Pentz. Meeste van hulle het lewenslange vriende geword.
Sy het ook haar man, Gert, in haar studentedae ontmoet. Nie op kampus nie, maar wel op ‘n trein rit na Johannesburg.
Die ingenieur student en die drama student het dadelik gekliek. Terwyl Gert nog gestudeer het, het Trudie onderwys gegee in die Paarl.
Die twee is in 1965 getroud en het in 1967 na Vereeniging verhuis. Die huis waarin hul nou bly het Gert self ontwerp en gebou.
Hier het hulle hul twee seuns, Hugo en Dries grootgemaak en hier bied sy nou nog individuele dramaklasse aan.
Sy het deur die jare duisende kinders opgelei. “Daar is van hulle wat my nou nog kontak. Dit is vir my wonderlik om te kan sien hoe kinders groei en ontwikkel. Drama het ‘n ongelooflike positiewe impak op kinders se lewens.”
Behalwe dat sy op ‘n stadium kommunikasiekunde by die destydse technikon aangebied het, was sy ook betrokke by die Vereeniging Kunsfees waarvan sy een van die stigterslede was in die 1970’s.
Onder haar talryke lewenshoogtepunte lê die oorkonde wat sy in die 80’s ontvang het, haar na aan die hart.
Dis deur die Kunsfeeskomitee van Vereeniging vir haar gegee vir haar voortreflike diens gelewer ter bevordering van die uitvoerende kunste en in besonder Afrikaanse en Engelse Spraak en Drama.
“Die oorkonde is deur die befaamde Anna Neethling-Pohl aan my oorhandig”, onthou sy.
Sy word 80 op 28 Oktober, maar daar is nog geen sprake van aftree en stilsit by Trudie nie.
Sy bied nog klasse aan, beoordeel steeds kunsfeeste en geniet dit om saam met vriendinne lekker te gesels.
“Ek is ‘n gelukkige mens. Ek is nie gepla oor wat ander van my dink nie,” beduie sy. Naas drama en letterkunde, is Trudie lief vir tuinmaak.
Die groot tuin is ‘n lushof van groen koelte kolle onder ou bome en beddings vol kleurryke blomme.
“Die lewe is lekker man!” lag sy toe ons in die tuin plek soek vir foto’s neem.
Wat veronderstel was om ‘n vinnige onderhoud te wees, ontaard in ‘n hoogsontspanne, lekker lag, kuier (“bly sommer vir middagete, ek het nagereg ook”) sessie saam met Trudie en haar vriendinne.
Trudie het die gawe om stories te vertel, maar ook om die beste in almal om haar na vore te bring.
Vandat die 9-jarige Trudie die eerste keer op haar fiets na die dramaklas gery het tot nou, 71 jaar later, het sy baie diep spore vir drama en kuns in die Vaaldriehoek getrap … en elkeen van daardie spore is met empatie en deernis gedoen.


