VANDERBIJLPARK – Aandrokke wat bankbestuurders laat glimlag en spoggerige sports- en antiekemotors het die kollig tydens Hoërskool Transvalia se matriekafskeid gesteel wat Dinsdag by die Tsogo Emerald Resort en Casino plaasgevind het.
Die aankoms van die matrikulante was ’n skouspel op sy eie met brullende enjins wat die aankoms van die paartjies aangekondig het, terwyl fotograwe oral rondgeskarrel het om foto’s en video’s te neem. ’n Rooitapytverwelkoming geskik vir adelikes het vir die matrikulante gewag.
Gekleë in hul mooiste skeppings en deftige pakke het hulle die kameras aangedurf.
Die rye stoele langs die aankomsgebied was volgepak met ouers, familie en vriende wat elke aankoms aandagtig dopgehou het. Selfone het oortyd gewerk terwyl video’s geneem is en herinneringe vir ewig vasgelê is.
Die geleentheid is ook regstreeks aanlyn gestroom, sodat diegene wat nie daar kon wees nie, deel van die betekenisvolle gebeurtenis kon wees.