News

Meyerton se 2,1 kg-wondertjie ‘n voorbladster

Ouers kon foto's van hul babas of kleuters instuur vir die kompetisie, en Noah du Toit se ma het van die geleentheid gebruik gemaak.

MEYERTON – Die meeste mense sal saamstem dat alle kinders mooi is, maar min kry die voorreg om op ‘n tydskrif se voorblad te pryk.

Met hul opregtheid, onskuld, groot ronde ogies en engelglimlagte steel kleuters gou enige grootmens se hart.

Een so ‘n besondere seuntjie is die 18 maande oue Noah du Toit van Meyerton.

Noah is onlangs as die wenner van Baba & Kleuter-tydskrif se landwye “Cover Search”-kompetisie aangewys en pryk op die voorblad van Uitgawe 2 van 2026.

Klein Noah du Toit met die uitgawe van die tydskryf waarop hy op die voorblad was.

Sy ma, Kelly, het ‘n foto ingeskryf wat sy sommer self met haar selfoon geneem het.

Noah is op 5 Januarie 2025 gebore toe Kelly op 36 weke ‘n noodkeisersnee moes kry. Met sy geboorte het hy maar net 2,1 kg geweeg en was net 35 cm lank.

Hy is Kelly en haar man, Willie, se enigste kind.

“Hy het sommer uit die staanspoor gewys hy is ‘n klein vegter,” vertel ‘n trotse Kelly.

“Hy was net een dag in die neonatale waakeenheid, en drie dae later kon ons albei huistoe gaan.”

Die pragtige foto wat Kelly du Toit geneem en ingestuur het.

Sy naam is ook met groot sorg gekies. Noah beteken “rus” en “troos” en dit is presies wat hy in sy ouers se lewe gebring het.

Noah is ‘n regte klein buitelug-knaap wat die lewe op die kleinhoewe terdeë geniet. Hy is sy pas se beste helper op die kleinhoewe.

“Hy probeer altyd doen wat sy pappa doen en wil heeltyd by hom wees.”

Buiten sy groot liefde vir diere, is hy ook mal oor musiek.

“Sodra hy musiek hoor, begin hy beweeg en dans. Hy bring dadelik lewe en vrolikheid waar hy hom ook al bevind,” sê Kelly.

“Ons dansende seuntjie is ons grootste geskenk.”

Die Du Toit-gesin van Meyerton. Klein Noah saam met pa Willie en ma Kelly. Foto’s: Verskaf
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button