My verlede is groen, Frikkie Meyer groen
'n Onverwagse reis terug in tyd.
Betree ek nou die anderdag my ou laerskoolgronde. Nee, nie vir die stemmery nie, dit was die vorige week. Die keer was dit vir ‘n begeleide toer deur die skool.
Daar is ‘n vreeslike gebou en gebrekery aan die gang. Dié oggend waai die wind yskoud mens se asem weg terwyl ek met elke tree ‘n stuk van die verlede ooptrap.
“Hierdie was die biblioteek,” sê ek.
“Mediasentrum,” help die hoof my reg, terwyl ons die leë vertrek binnestap.
Voor links staan dieselfde toonbank nog. Ek was op my dag biblioteekprefek en het baie ure agter daai toonbank deurgebring.
Die hoof beduie van nuwe tegnologie en ‘n rekenaarsentrum.
“Ja,” sê ek, “teen daardie muur was die rakke met die boeke van A tot F. Was my rakke.”
Ek sien die hoof wonder of hy die stukkie van die internet en e-boeke moet herhaal, maar besluit dan daarteen.
Ons loop verder terug in tyd. Ek sien weer myself in 1980. Standerd 1. My hande sweet. Dit maak merke in my skrif.
“Gee jou kloutjie hier,” sê die juffrou en plant haar dun lat oor vier van my vingers. My hande sweet meer.
“Met jou handskrif sal jy nêrens kom nie,” spreek sy haar ongevraagde mening uit oor iemand wat vandag betaal word om te skryf.
“Dis nuut,” steek ek onverwags vas voor ‘n vreemde gebou.
“Dis die klubhuis,” seg die hoof. “Dit staan al ‘n hele paar jaar.”
“Nie in my tyd nie,” verklaar ek asof Frikkie Meyer sy ontstaan in 1978 gehad het en soos ‘n Brigadoon einde 1984 in die mis verdwyn het en nou spesiaal weer vir my verskyn het.
“Die snoepie,” verheug ek my in die ou geboutjie. Ek sien weer hoe my Ouma Bessie sop uitdeel.
Dis die winter van ’78 en Ouma reken die kinders kort sop. Toe neem sy die snoepie oor, ses maande vroeër het sy die tuine ook onder hande geneem.
Ek loer in die rigting van een van die blombeddings langs ‘n muur. “Hoe lank staan daai krismisrose al?”
Meneer was besig om te verduidelik van die dakplate. “Ehh baie lank,” sê hy.
“Ek onthou dit goed,” sê ek. “Ek dink my Ouma het dit nog geplant. Sy was lief vir krismisrose.”
In die saal begin ek lag. Nie vir die tafels vol boeke en leêrs nie, maar vir die saal se stoele.
“Heiden Gert,” sê ek “dis dan nog presies dieselfde stoele!”
Teen die tyd het meneer ook nou al opgegee. “Ja, dis deel van die erfenis. Eendag trek ons nog daai stoele nuut oor.”
“Ek is bly die dak is nog groen,” verklaar ek.
“Ek ook” stem hy saam.
In die adminblok gaan soek hy vir my die skool se 50 jaar herdenkboek.
Ek gesels solank met die kantoorpersoneel. “In standerd 1 het ons ‘n toneelstuk opgevoer. Weet nie meer wat was die naam nie, maar ek was die leier van die bose geeste.
“Die feeprinses kon ons net uitwis deur ons met strooi te gooi. Ons het niesend gesterf,” beduie ek.
“Ons gesigte was swart geverf met een wit oog of wit geverf met een swart oog. Ek kan nie so lekker onthou nie.”
Ek kan sien hulle wil nog gesels, maar die hoof loer na sy horlosie en ek moet nog gaan stories skryf.
“Laat ek groet, voordat ek netnou in ‘n grasgroen rok hier staan,” lag ek voor ek omdraai en tree vir tree uit die 70’s die 80’s betree en 2021 weer bereik toe die hek agter my toeslaan.
![]()
