Rudi neem leisels oor by AfriForum Vanderbijlpark
Rudi de Beer het reeds die afgelope twee jaar as ondervoorsitter van die AfriForum Vanderbijlpark-tak gedien.
VANDERBIJLPARK – Vir die afgelope vyf jaar veg Rudi de Beer reeds skouer aan skouer saam met AfriForum om ’n tasbare verskil in die plaaslike gemeenskap te maak.
“Dit is vir my ’n absolute passie om by AfriForum betrokke te wees. As ons nie self inspring en eienaarskap neem nie, gaan ons dorp net verder agteruit,” sê Rudi.
Hy neem tans waar as voorsitter nadat die voormalige voorsitter, Jan Labuschagne, die politieke arena as raadslid betree het.
Jan was vir meer as 10 jaar die voorsitter van die plaaslike tak.
AfriForum beklemtoon dat die organisasie streng onpartydig bly en nie aan enige politieke party verbind is nie.
Projekte
As waarnemende, en binnekort amptelike voorsitter, het Rudi reeds verskeie vars idees vir die tak.
Vir nou fokus die span egter op die voortsetting van hul bestaande projekte, waaronder begraafplaaspatrollie, die instandhouding van velde en parke, asook buurtwag-patrollies.
In sy professionele lewe is Rudi verbonde aan Solidariteit.
Sy vrye tyd wy hy aan sy gesin, en hulle is veral lief daarvoor om betrokke te wees by die musiek- en vermaaklikheidsbedryf.

Uit liefde vir die gemeenskap
“AfriForum-lede doen hierdie werk suiwer uit liefde vir hul gemeenskap. Dit is nie altyd maklik nie; mense verwag soms dat jy wonders moet verrig, maar dit werk ongelukkig nie so nie.
“Ons is heeltemal afhanklik van die publiek se aktiewe betrokkenheid en donasies om ons projekte suksesvol deur te voer,” verduidelik Rudi.
Lede van die gemeenskap wat by AfriForum betrokke wil word, word genooi om Rudi de Beer by 083 304 1016 te kontak.

