Ontbinde liggaam by Doornkuil ontdek
Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die ontdekking van ’n ontbinde liggaam by Doornkuil in De Deur.
DE DEUR – Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die ontbinde liggaam van ’n onbekende persoon Maandag 21 September by Doornkuil ontdek is.
Volgens konst. Mampho Mahlomola, polisiewoordvoerder, het ’n verbyganger die liggaam opgemerk en ’n plaaslike gemeenskapsleier daarvan in kennis gestel. Die polisie is daarna na die toneel ontbied.
Die liggaam was reeds so ontbind dat die persoon se geslag nie op die toneel vasgestel kon word nie.
DNS-toetse sal as deel van die ondersoek gedoen word om die oorledene te probeer identifiseer.
Enigiemand met inligting wat die polisie met die ondersoek kan help, kan die De Deur-polisie by 016 590 9200 skakel of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 bel.