Local newsNews

Ek sê maar net… Dit was goed vir die stresvlakke

RUBRIEK - Die besoek was toe net so goed vir die besoekers as vir die inwoners. Nie aldag dat mens op 'n Maandag kan inkleur nie.

RUBRIEK – Die tyd en datum het ek weke terug al aangeteken. Solidariteit Helpende Hand. Siësta. 09:00. Net so, onder 21 September. Dis Wêreld-Alzheimerdag.

Die span van Solidariteit Helpende Hand Vanderbijlpark-tak (ek wens hul wil ‘n afkorting vir hul naam uitdink) het by die inwoners van Huis Siësta se versorgingseenheid vir verswakte bejaardes gaan kuier.

Johann en Gerda hoog in hul skik met hul cupcakes. Foto: Jaco Mienie

By die toegangshek kry ek nie my bestuurslisensiekaart uit my beursie nie. Die ding sit vas. Ek is laat. Gelukkig kry die hekwag na ‘n bietjie gesukkel die kaart bevry en ek kry parkering by die voordeur.

Soos ons gang af stap hoor ek al die musiek. Dis pure 60’s, met so nou en dan ‘n nommer uit die 50’s. Binne is die Helpende Hand-span en die inwoners aan die dans.

Ek neem foto’s. Giggel vir streeksorganiseerder Mariëtte wat die twist doen en vir die tannie wat skielik glimlag toe sy Elvis Presley se Hound Dog herken.

“Wat gebeur nog vandag,” vra ek vir Helpende Hand se Jaco wat neffens my staan en foto’s neem. “Hulle gaan nou nou cupcakes versier en later inkleur,” deel hy my mee.

Was ook nie lank nie, toe stoot die versorgers die rolstoele na die tafels waar elkeen ‘n vrolike servet en ‘n plastiese mes kry. Die bakkies met helder versiersuiker maak hul verskyning.

Ek kry ‘n idee. Een van my impulsiewe idees. “Johann,” kommandeer ek Helpende Hand se takvoorsitter, “ons gaan ook cupcakes versier.”

Die man kyk my aan asof ek gesê het hy moet manalleen teen die Springbokvoorry gaan skrum, maar ek is vasbeslote.

Johann het intussen besef hy het die stryd teen ‘n joernalis verloor en gaan sit. “Julle moet foto’s neem,” beduie ek met ‘n plastiese mes vol pienk versiersuiker in Jaco se rigting.

Ons versier die cupcakes of ons ses goue sterre daarvoor gaan kry. Plak pienk, blou en geel versiersuiker op. ‘n Oordaad eetbare blou sterretjie en blinkertjies bo-oor. Johann prakseer ‘n gesiggie. Ek verklaar myne tot ‘n abstrakte kunswerk. Lyk vir my soos ‘n Picasso.

Ons speel te lekker. Johann wil nog protesteer toe het ons reeds inkleurprente voor ons. ‘n Reuse mushroom-mannetjie op elkeen se prentjie. Ons kry ‘n stuk of ses kleure. Ek dog eers dis ‘n potlood, maar ontdek dis ‘n tipe vetkryt.

Die buurtannie bedank Johann vir die span se moeite om te kom inloer. Die ander tannie kleur ‘n uil in. Goudgeel en groen. Sy sê dit was die lekkerste dag nog in haar lewe.

Tannie, dit was die lekkerste Maandagoggend in ‘n lang tyd en dit net omdat ons saam met jou kon sit en inkleur. Ons is net spyt omdat daar nie klei was nie. Volgende keer… Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button