LifestyleNewsNews

Dirk Roeper – Kaalvoet Vrou

Geskiedkundige "Kaalvoet vrou" val soet op die oor. Dit is ’n liedjie waarna ’n mens weer-en-weer en nog ’n keer sal luister.

Skaars drie maande nadat die sanger, woordtowenaar en musikant Dirk Roeper sy debuutenkelsnit Soos die Maan uitgereik het, is hy terug op die radiospeellys met nog ‘n rockgedrewe liefdesballade Kaalvoet Vrou.

Dit is ’n amper-weemoedige rou liefdesliedjie wat maklik die temalied vir ’n Afrikaanse rolprent sou kon word…

Die liedjie handel oor verlore liefde – oor dáárdie figuurlike kaalvoetvrou wat iewers langs die pad uit ’n man se lewe verdwyn het. Sy het aangegaan met haar lewe, maar hy sit nog en wonder oor haar…

Dit word goed vergestalt in die koorgedeelte… “kaalvoet vrou waar is jy nou… en het jy iemand wat jou vashou…”

Die liedjie se titel het hom eintlik ontleen aan ’n geskiedkundige kaalvoet vrou, Susanna Catharina Smith, die suster van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz en vrou van eerwaarde Erasmus Smith wat in middel agtienhonderds die woorde geuiter het wat steeds in die Afrikaans idoom weerklank vind: “Liewer kaalvoet terug oor die Drakensberge as om onder Britse beheer te staan.”

Dirk, wat onlangs die Voortrekkerpas naby Bergville in die Drakensberge besoek het, het die onthutsende standbeeld van Susanna wat met haar regtervoet op ’n klip trap raakgesien. Soos dit ’n kunstenaar betaam het die idee vir ’n liedjie in sy kop posgevat. “Ek het ’n liedjie rondom die titel gebou en het dit binne tien minute klaargeskryf. Die standbeeld het my baie ontroer,” vertel Dirk. “Ek het per ongeluk die verkeerde akkoord op my kitaar gedruk en uit dáárdie skewe noot is die melodie gebore.”

Die produksieproses van dié liedjie, het net soos Susanna se stryd tydens die Anglo-Boereoorlog, nie seepglad verloop nie ; trouens, Dirk het gesukkel om die gevoel van die liedjie reg te vertolk. Hy het by drie verskillende vervaardigers probeer opneem, maar die liedjie was net nie reg nie. “Ek het toe uiteindelik by die vervaardiger Mark Beling uitgekom en die res is – net soos Susanna se storie – geskiedenis. Die eindresultaat is ’n rou musikale wenresep met ’n eg Suid-Afrikaanse ritme. “Ek wou die akoestiese gevoel regdeur die liedjie behou en ons het so min moontlik instrumente tydens die opname gebruik.”

Dirk is deel van die groep Morning After, maar die afgelope twee jaar het hy besluit om meer te fokus op sy eie, oorspronklike musiek…

Dirk is ’n sterk liriekskrywer wat homself nog as een van die bestes in dié land kan vestig.

Kaalvoet vrou val soet op die oor. Dit is ’n liedjie waarna ’n mens weer-en-weer en nog ’n keer sal luister.

 

********************************************************************************

 
Back to top button