Die Vaal se eie Mr Universal SA
Van Mnr Vaal na Mr Universal SA - Werner ryg nou die titels in
VANDERBIJLPARK. – Werner Volschenk het sy jaar as Mnr Vaal ten volle benut.
Hy het alles gedoen, en dit op volle vaart, van gemeenskapsdiens tot by mentorskap vir voorgenome titelhouers.
Onlangs was sy jaar as Mnr Vaal iets van die verlede, maar nou het hy ‘n splinternuwe titel – Mr Universal SA 2021/22.

“Die Mr Universal kompetisie was ‘n bedrywige een. Die eerste dag wag ons nog vir ‘n inligtingsessie, toe model ons al,” lag hy, duidelik nie gepla nie.
“Ons het die hele week geoefen vir die kroningsaand. Die dag voor die finale rondte het ons ‘n superheld-tema gehad. Ek het myself bietjie oortref en my enkel seergemaak toe ek van die verhoog afgespring het.”
Die besering het hom nie terug gehou nie. Hy het nog steeds as algehele wenner, besgeklede vir die onderhoud, eerste prins in die Face of Mr Universe, choreograaf se keuse en Mnr Persoonlikheid uit die stryd getree.
Werner mik vir die Mnr SA titel in 2022, maar vir eers is al sy aandag op 4 Desember wanneer hy as ‘n beoordeelaar gaan optree by Miss Urban Africa in Durban.
“Ek geniet dit om beoordelaar te wees en was die afgelope jaar by verskeie skole betrokke, onder ander by die die beoordeling van Mnr en Mej Valia, Mnr en Mej Dokkies en Mnr en Mej Driehoek,” vertel hy.
Hy het ook die nuwe Mnr Vaal, Michael Language, onder sy vlerk geneem om te mentor en is steeds ambassadeur vir verskeie organisasies in die Vaal.
“Een van die dae was ons weer honde by Vaal Pets,” lag hy. Sy rekord is 56 honde op een dag!
Hy is op sy gelukkigste as hy ‘n verskil in ander se lewens kan maak.
Vir die toekoms het hy baie planne, van sy eie pageant begin tot om ‘n aanlyn Survivors SA op die been te bring.
Intussen is hy ook ‘n pro-gamer wie se kop almeer in die rigting van inhoudskepping eerder as speler staan.
Die kersie op die koek is natuurlik ‘n moontlike reis Turkye toe volgende jaar waar hy as Mnr Universal SA sal kan deelneem.

Hoe dit ook al sy. Vir Werner bly die lewe ‘n avontuur wat hy met ‘n vonkel in die oog aanpak. Hy help waar hy kan en geniet elke oomblik daarvan.

