
VANDERBIJLPARK. – Laerskool D.F. Malherbe het aanvanklik as die Agtste Laerskool bekendgestaan. Dit was Vanderbijlpark se eerste laerskool suid van die Vereeniging/Paryspad. Omdat die gebou, wat reeds in aanbou was, nog nie voltooi was nie, is die skool aanvanklik in ‘n voorafvervaardigde gebou in Buddstraat geopen. Die geboue het voorheen die Hoërskool Transvalia gehuisves en was toe reeds meer as ‘n jaar in onbruik.
Sommige van die klaskamers was ook reeds verwyder en ‘n “tuin” van fondasies het die perseel versier – ‘n ontoelaatbare maar aanloklike speelplek vir die kleingoed, wat nog deur duisende leerlinge van daardie jare, onthou sal word. Die skool is geopen op 19 Januarie 1965. Ds. A. de Witt het die skriflesing en gebed gedoen, waarna die destydse waarnemende hoof, mnr I.W.F. Swart, die verwelkoming gedoen het.
Mnr. Koos Havenga, die Provinsiale Raadslid, het ook ‘n woord van welkom en gelukwensing namens die ouers en die skooladministrasie gedoen. Die skool het met 622 leerlinge begin en almal is met busse na die skool vervoer. Spoedig het die leerlingtal toegeneem tot sowat 850 en elke beskikbare hokkie op die perseel moes gebruik word as klaskamer.
Die eerste permanente hoof, mnr. F.J. Coetsee, het op 1 Januarie 1966 diens aanvaar. Die skool het op 18 Januarie 1966 vir die nuwe skooljaar met 1 039 leerlinge heropen. Dié getal het in die loop van die kwartaal aangegroei tot 1 061. Die voorafvervaardigde geboue was gevolglik te klein om al die leerlinge te huisves. Gelukkig was ‘n gedeelte van die nuwe skoolgebou in Sullivanstraat 19 voltooi, sodat ses Graad 1-klasse met 223 leerlinge na die nuwe gebou oorgeplaas kon word. Beheer deur die hoof het moeilik geword, aangesien die geboue 5 km uit mekaar geleë is.
Aangesien die res van die klaskamers in die nuwe skoolgebou die einde van Maart voltooi is, het die Departement dit onder omstandighede goed geag om die skool in twee te verdeel. Sodoende is ‘n nuwe laerskool, naamlik die Negende Laerskool (Laerskool Voorslag) op 19 April 1966 met 330 leerlinge in die voorafvervaardigde gebou geopen. Agt van D.F. Malherbe se personeellede is ook oorgeplaas na Negende Laer.
Laerskool D.F. Malherbe het van dieselfde datum af met 772 leerlinge in die nuwe skoolgebou ingetrek, hoewel ‘n gedeelte van die gebou nog nie voltooi was nie. Die kantoor en die administratiewe afdeling is tydelik in a stoorkamer langs die gradekamer gehuisves. Die amptelike ingebruikneming van die skool het op 12 Mei 1967 plaasgevind. Prof. D.F. Malherbe, die digter, dramaturg en romanskrywer na wie die skool vernoem is, het spesiaal van Bloemfontein af gekom om die verrigtinge by te woon.
Hoewel die skool vir die eerste paar jaar nie sportfasiliteite gehad het nie, het DF tog deelgeneem aan rugby, netbal, krieket en atletiek. Intussen is die sportgeriewe deeglik ontwikkel en vandag staan DF Malherbe se sportterrein vir geen skool terug nie.


***********************************************************
