LifestyleLocal LifestyleNews

Diamantbruilof: Rassie en Marie stap die pad al 60 jaar saam

“Namens die familie en vriende wens ons ons ouers ‘n wonderlike 60ste huweliksherdenking toe. Ons dank die Here dat Hy ons ouers vir soveel jare gespaar het en nog steeds Sy hand oor hulle hou,”

VANDERBIJLPARK. – Rassie en Marie Erasmus word deur hul kinders as juweelouers beskryf – en op 9 November kon dié twee skatte hul diamantbruilof vier. ‘n Volle 60 jaar wat hulle hul lewenspad reeds saam stap.

Rassie is op 21 Januarie 1941 in Graaf Reinet gebore en Marie op 18 September 1943 in Port Elizabeth, waar die tweetjies mekaar ontmoet het. Dit was liefde met die eerste oogopslag! Die paartjie is op 9 November 1961 getroud en het hulle in Port Elizabeth gevestig, waar hul drie oudste kinders, Sonet, Anita en Marius, gebore is.

“Ons pa is vreeslik lief vir rugby en hengel en was ‘n kranige rugbyspeler in sy tyd. Hy het selfs vir PE en later vir Yskorklub gespeel en was baie gewild onder sy werksmense en vriende. Daardie jare het hulle op die dolosse gestaan en groot kabeljoue uitgetrek met die visstokke. Ons ma het in haar jonger dae tennis gespeel. Ons was ‘n hegte huisgesin en ons ouers het ons in ons kinderjare oral saamgeneem,” onthou hul dogter, Anita.

Die Erasmus-egpaar het in 1974 na Vanderbijlpark verhuis, waar Marie se ma en haar oudste suster ook gewoon het. Die egpaar se jongste kind, Leon, is in 1977 in die destydse Vanderbijlpark-hospitaal gebore.

Rassie was verbonde aan die Stringgiet by ArcelorMittal (destyds Yskor) se Suidwerke en Marie was vir ‘n tyd bestuurderes by die AA voordat sy ook oor is na Yskor, waar sy onder andere by die klokstasie, Suidwerke en later in die hoofgebou gewerk het. Omstreeks 1994 het albei pakkette ontvang. Rassie het sy werksloopbaan afgesluit maar Marie het nog ‘n aantal jare vir Pick n Pay in Bedworthpark gewerk en mettertyd ook by ‘n kosmetiese maatskappy aangesluit.

Volgens Anita is haar ma steeds baie aktief en altyd besig met werk. “Al is sy 78 jaar oud, staan sy terug vir niks,” sê Anita.

Die Erasmus-egpaar is geseën met ses kleinkinders en sewe agterkleinkinders. In 2004 moes hulle deur die hartseer gaan om ‘n kind te verloor toe hul oudste dogter, Sonet, oorlede is. Die egpaar en familielede het mekaar ook deur dié donker tyd gedra.

Rassie (80) het in die afgelope jare twee beroertes gehad en Marie het hom met groot liefde self versorg. Hy het wonderbaarlik herstel en geen blywende skade oorgehou nie. Marie het self ook op ‘n jong ouderdom ‘n hartomleiding ondergaan en in later jare weer een, maar dit gaan tans goed met albei. “Ons prys die Here hiervoor,” sê Anita.

“Namens die familie en vriende wens ons ons ouers ‘n wonderlike 60ste huweliksherdenking toe. Ons dank die Here dat Hy ons ouers vir soveel jare gespaar het en nog steeds Sy hand oor hulle hou,” sê Anita.

Rassie en Marie Erasmus, wat op 9 November hul 60ste huweliksherdenking gevier het.
Rassie en Marie in hul jonger jare.
Die pragtige koek wat spesiaal vir die 60ste feesvieringe gebak is.
Rassie en Marie met hul dogter Anita en seuns Marius en Leon.

****************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button