NationalNews

Waarskuwing aan ouers van skoolverlaters – pasop vir dié ‘boer’

"Ons was mal van bekommernis oor ons seun," sê Vaaldriehoekse ma.

VEREENIGING. – “Ouers, wees versigtig as jul jong seuns ‘n werksgeleentheid kry wat te goed klink om waar te wees. Ons is deur ‘n paar dae van hel en glo die ‘werkgewers’ het ongure planne met ons kind gehad.”

Dié waarskuwing kom van ‘n Vaaldriehoekse ma, Nicola (haar ware identiteit word weerhou) nadat hul seun ‘n werksgeleentheid gekry het by ‘n man wat hom as ‘n boer van Bloemfontein voorgedoen het. Hulle het egter gou agtergekom dat daar ‘n vreemde slang in die gras was.

Nicola vertel: “Ek het ‘n tyd terug ‘n advertensie namens my twee seuns op ‘n werksgeleenthede-groep geplaas. Weke het verbygegaan en een aand bel ‘n man en sê hy is ‘n beesboer in die Bloemfonteingebied en is dringend op soek na twee jong manne.

“Die man het dokumente ge-e-pos wat heel amptelik en wettig gelyk het. Dit het onder andere bestaan uit werkkontrakte en ‘n lys van voordele. My oudste seun het toe sy CV aangestuur. Alles is aanvaar en hy het die ‘werk’ gekry. Die boer het selfs aangebied om vir sy buskaartjie te betaal. Ons was verheug omdat ons seun tot dusver nie werk kon kry nie.

“Ons het die eerste dae niks van hom gehoor nie en toe hy ons uiteindelik kon kontak, moes ons met ‘n skok hoor dat al die beloftes vals was. Die mense is ook nie wie hulle gesê het hulle is nie. Dis ook nie ‘n bees- en skaapplaas soos wat die ‘boer’ gesê het nie. Daar was net hoenders en ganse. Die plaas is ook nie naby Bloemfontein nie, maar net ‘n paar kilometer vanaf Maseru, Lesotho. Ons seun is in ‘n buitekamer ingesmyt en hy moes die volgende oggend gaan hout kap. Daar is geen krag of water op die plaas nie. Hulle het sy selfoon sowel as sy eetgoed soos aartappelskyfies, lekkers en koekies wat ons spesiaal vir hom gekoop het, by hom afgeneem en hy het geen kos of iets om te drink by hulle gekry nie.

“Hy kon genadiglik daarin slaag om weg te kom en ons met die hulp van ‘n boer op ‘n buurplaas, te kontak. Teen daardie tyd het hy dae laas geëet. Hy het sy aanmaakkoeldrank se stroop maar bietjie-vir-bietjie gedrink om net vloeistof in sy liggaam te kry.

“Ons is so dankbaar teenoor die boer van die buurplaas wat hom teruggeneem het na Bloemfontein, waar ons hom gaan haal het. Ons as gesin wil ander ouers bewus maak van hoe onderduims en vals mense kan wees. Ons was mal van bekommernis oor ons seun. Ons glo God het na hom gekyk en hom veilig aan ons terugbesorg. Ons wil nie hê dat nog mense in die strik moet trap nie, daarom vertel ons van die gebeure om soortgelyke dinge te voorkom. Die ‘werkgewer’ en kontrakte kom alles so professioneel voor, maar hulle is swendelaars. Ons glo hulle het baie slegte planne met ons kind gehad.”

* Ander ouers of jongmense wat soortgelyke stelle afgetrap het, kan Vaalweekblad by 083 246 0523 kontak.

&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&&

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button