VANDERBIJLPARK. – Een van die Vaaldriehoek se geliefde oud-onderwyseresse, mev. Lenie Bester, is onlangs in die ouderdom van 83 oorlede.
Dié gebore onderwyseres het meer as drie dekades by die destydse Laerskool Voorslag (nou Laerskool Eligwa) skoolgehou en was ‘n rolmodel vir duisende Vanderbijlparkse skoolkinders.
Mev. Bester is op 6 Maart 1938 in Benoni gebore en het aan die Hugenote Hoër Meisieskool gematrikuleer. Op 13 Augustus 1954, op die ouderdom van net 16 jaar, het sy die eerste prys op die Springs Kunswedstryd vir Afrikaanse voordrag in die ope afdeling gewen, sê haar dogter, Wilna.
“Sy kon pragtig voordra en was haar lewe lank ‘n kampvegter vir Afrikaans. Sy was lief vir lees en letterkunde en het tot aan die einde van haar lewe graag gelees en blokkiesraaisels ingevul.” As jong meisie het sy onderwys aan die Heidelberg Onderwyskollege studeer, waar sy die liefde van haar lewe, Paul Bester, ontmoet het. Hulle het saam in Vanderbijlpark kom skoolhou en hul lewens aan opvoeding en die onderwys gewy.
“Dit was vir hulle meer as ‘n werk. Dit was ‘n leefwyse, ‘n roeping en ‘n passie,” sê Wilna. Lenie het vir 33 jaar skoolgehou, waarvan sy 30 jaar aan die Laerskool Voorslag (1969-1989) verbonde was, en mnr. Bester aan die Hoërskool Vanderbijlpark. Na hul aftrede het hulle die land deurreis, tot met mnr. Bester se dood in 1998. Mev. Bester het in haar laaste jare in Soetdoringlaan in Herfsoord, Vanderbijlpark, gewoon.
“Sy het ‘n pragtige tuintjie onderhou en elke jaar in Europa gaan toer. Ten spyte van haar groot verlies het sy steeds moedig en voluit geleef. Altyd positief, pragtig en mooi aangetrek. Sy het haar hare vir 56 jaar weekliks laat doen by dieselfde haarkapper, June Pienaar,” sê Wilna.
“Oudskoliere was vir haar ‘n vreugde. Sy het hulle onthou en het die mooi herinneringe gekoester. Haar wortels in Vanderbijlpark was diep en sterk. Mag sy in vrede rus langs ons geliefde pa.” Mev. Bester word buiten Wilna ook oorleef deur ‘n seun, Danie, skoonkinders en kleinkinders.

