LifestyleNewsTravel

Bielie en Ansie wen Kwêla se groot prys met video

Hul wenprys is elke kampeerder se droom: ‘n Luukse, geharde Conqueror Commander kampeerwa!

VANDERBIJLPARK. – ‘n Gemeenskaplike liefde vir fotografie en die buitelewe het vir twee inwoners van die Palms Aftreeoord, Bielie Janse van Rensburg en sy vriendin, Ansie Erasmus, ‘n yslike geskenk in die sak gebring.

‘n Video wat deur Bielie geneem is, is as wenner in die TV-program Kwêla se jaarlikse Feite en Geite-kompetisie aangewys. Die wenprys is elke kampeerder se droom: ‘n Luukse, geharde Conqueror Commander kampeerwa! Die wenvideo van ‘n swartkwasmuishond wat ‘n uiters giftige Kaapse kobra aanval en die slang uiteindelik doodmaak, is deur Bielie in die Kgalagadi Oorgrenspark geneem.

Volgens Bielie het hy en Ansie die betrokke dag na ‘n grot gery waar hulle gehoop het om ‘n luiperd te sien en foto’s te neem toe hulle die geveg tussen die meerkat en kobra opmerk. Bielie sê hy was so 10 meter weg van die geveg en het dadelik sy kamera gegryp en begin neem. Na die derde foto was sy geheuekaart vol en moes hy teleurgesteld sy selfoon gebruik om verder net video’s te skiet.

Bielie en Ansie het besef hierdie gaan ‘n stryd om lewe en dood wees. Die meerkat moes ‘n hele paar flink spronge uithaal om die slang se vinnige pikwerk te systap, maar kon na ‘n stryd van meer as ‘n uur daarin slaag om die slang aan die kop beet te kry, dit te verbrysel en die slang weg te sleep. Slangvleis is glo koningskos vir meerkatte, mits hulle daarin kan slaag om een dood te maak.

Die video is vir Kwêla se wedstryd ingeskryf, maar Ansie, self ‘n uitstekende natuurfotograaf, sê hulle het glad nie verwag om te wen nie.

“Ons wil vir elkeen wat vir ons gestem het, baie dankie sê want elke stem het getel. Ons het nog nooit so ‘n groot geskenk gekry nie! Ons het voorheen ‘n ou kampeerwaentjie van ‘n vriend geleen en nou het die Vader ons geseën met ons eie wa. Dis ‘n groot bederf,” sê Ansie.

Sy en Bielie kan nie wag om die pad in hul luukse voertuig saam met hul vriende, Piet en Wilna Prinsloo, aan te pak nie. Bielie en Ansie maak reeds reisplanne vir volgende jaar: In Januarie gaan hulle vir ‘n maand Scottburgh toe; in Februarie vat hulle die pad Kaap toe en in middel-Mei kom die Kruger-wildtuin aan die beurt. Hulle droom ook daarvan om eendag die Chobe Nasionale Park in Botswana te besoek. Hul gunsteling bly egter die Kgalagadi Oorgrenspark. “Vir ons is dit die paradys. Ons sou vir altyd daar gaan bly as dit net moontlik was,” sê Ansie.

‘n Greep uit die video waar die meerkat die slang aan sy kop uit ‘n boom sleep.
Bielie Janse van Rensburg van Vanderbijlpark vertel op die TV-program Kwêla hoe hy vir meer as ‘n uur video’s met sy selfoon geneem het.
Bielie en Ansie by hul splinternuwe Conqueror Commander boswa.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button