Een Oujaar op die Feetjiebos-plaas
31 Desember 2017 - Dit was 'n besonderse middag en aand op die plaas.
Laatmiddag op Oujaarsdag pak die wolke onheilspellend saam. Dis warm. Té warm. Dit word donker.
Saam met die eerste druppels val daar groot haelkorrels. Ons word stil op die stoep. Piet word bleek, Ronél frons, Ouma Bella maak haar oë toe.
Elkeen se gebed. “Nie hael nie Here. Asseblief. Die makadamia oes. Reën is welkom, maar Here…”
Die hael hou op en die reën sak uit. Lank en aanmekaar. Op die stoep bly ons maar die wolke beloer. Hou ons asems op.
Skielik is dit daar, ‘n dubbel reënboog wat ‘n mooi boog oor die plaas span.
Ons gryp almal na selfoonkameras en storm uitgelate die stoeptrappe af.

Die honde hardloop baldadig rond terwyl ons vrolik lag en net so bietjie natreën van die laaste druppels wat nog so hier en daar val.
“Vanaand gaan ons vuurvliegies kyk,” kondig Piet aan en koers sommer dwars oor die werf om te gaan hoor watter gaste wil saamgaan.
“Ons sal maar feetjiebos toe ry,” verklaar Ronél, “net ingeval dit weer reën.”
‘n Rukkie later kruie ek en Ronél in haar motor agter Piet se bakkie op die bospad langs.
Van die gaste ry sommer agter op die bakkie saam. Onder die bome is dit al heeltemal donker. Naby die feetjiebos klim ons uit.
“Kyk die maan!” is wat almal eerste sê. Baie groot en baie rond het die volmaan kop uitgesteek bokant die bome. Ons staan verstom.
Almal gesels lekker, totdat ons die eerste vuurvliegies gewaar. Dit word stil.

Ons kyk grootoog hoe die klein liggies oral verskyn. Onmoontlik om met ons kameras af te neem. Dit word ‘n besonderse tyd.
Die paar mense onder die helder maan wat na die honderde vuurvliegies se liggies kyk. Baie mooier as enige kersboom in die stad.
Ek trap ampertjies op ‘n slak wat stadig verby seil en Ronél gaan druk haar hand in die fonteintjie wat sommer so uit die grond borrel.
‘n Paddatjie hop verby. Die gaste lag en gesels weer. Ons bondel terug in die motors en kruie weer met die bospad na daar waar die plaasligte wink.
Piet steek die vuur aan. Ons kuier op die stoep.
Naby middernag en ons verkyk ons steeds aan die helder maan, en luister na die paddakore wat oral vanuit uit die dammetjies op die plaas roep.
Perfekte oomblikke op die mooie plaas saam met hartsmense.
