NewsSchools

Uitdagende probleme is briljante Rodé se kos!

Dié slimkop van Hoërskool Driehoek het agt onderskeidings in die 2021 matriekeksamen behaal.

VANDERBIJLPARK. – Met agt onderskeidings op haar kerfstok wink die lewe blink vir Rodé Louw, die Hoërskool Driehoek se toppresteerder uit die klas van 2021.

Rodé, wat dwarsdeur haar skoolloopbaan uitmuntend presteer het, sê sy het akademie haar eerste prioriteit in haar matriekjaar gemaak en baie hard gewerk om haar doelwitte te bereik. Hoewel sy onseker was oor hoe haar uitslae gaan lyk, kan sy met reg baie tevrede voel. Sy het onderskeidings in Afrikaans Huistaal (88%), Engels Eerste Addisionele Taal (93%), Wiskunde (98%), Rekeningkunde (97%), Besigheidstudies (97%), Fisiese Wetenskappe (98%), Lewenswetenskappe (96%) en Lewensoriëntering (88%) behaal.

Sy beplan om vanjaar met haar studie in Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria te begin. “Ek was nog altyd mal oor wiskunde en hou baie daarvan om met uitdagende probleme te stoei, so aktuariële wetenskappe sien ek as so ‘n uitdagende rigting,” sê sy.

Rodé skryf haar akademiese sukses daaraan toe dat sy altyd moeite doen om die werk ten volle te begryp. “Ek glo dat ‘n mens jou eie opsommings moet maak want dit dien as ‘n dubbele geleentheid om jou werk te leer.

“Dis ook baie belangrik om vorige vraestelle uit te werk om agter te kom hoe die werk gevra word, en seker my belangrikste motto: Verstaan, verstaan, verstaan. Moet nooit tevrede wees as jy nie jou werk verstaan nie.”

Hoewel dié slimkop haarself as ‘n hardwerkende introvert beskryf, hou sy ook van sport en kultuurbedrywighede en het gedurende haar skoolloopbaan aan hokkie, atletiek, debat en redenaars deelgeneem. Sy was ook ‘n lid van Hoërskool Driehoek se leerlingraad.

Rodé sê haar ouers, Dolf en Janine Louw, se ondersteuning het baie vir haar beteken. Ma Janine is ‘n fisioterapeut en pa Dolf ‘n elektriese ingenieur. “Ek wil graag dankie sê aan al die Driehoek-onderwysers wat uit hul pad gegaan het om seker te maak dat ons al ons werk onder die knie het en dat ons hulle steeds laataand kon kontak as ons vrae gehad het. Ek wil ook dankie sê aan my ma vir al die ondersteuning en dat sy moeite gedoen het om my in te skryf vir Beeldskool, en vir my pa wat ure saam met my omgesit het om wiskundeprobleme op te los.”

Foto: Rodé Louw.

****************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button