Eienaar van konstruksiemaatskappy sterf in onverklaarbare ongeluk in parkeerterrein
ER24 sê 'n man in sy 50's het noodlottige beserings opgedoen toe hy Vrydagmiddag (11 Februaie 2022) beheer oor sy voertuig in die parkeerterrein van die Arcon Park Winkelsentrum verloor het en die voertuig gerol het.
VEREENIGING. – Dit is onbekend wat aanleiding tot die ongeluk gegee het.
Volgens ER24 het nooddienswerkers kort voor 14:00 by die toneel opgedaag en die bakkie op sy dak aangetref.
Die voertuig het glo ook met ‘n ander voertuig en ‘n paal gebots.
Lede van die Emfuleni-brandweer moes die man met reddingskake uit die voertuig sny.
“Ongelukkig het die man noodlottige beserings opgedoen. Hy is op die toneel oorlede,” sê ‘n verklaring van ER24.
Volgens ER24 het omstanders op die toneel gesê dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het toe hy oor ‘n spoedhobbel gery het. Daarna is die voertuig oor ‘n randsteen en in ‘n geparkeerde voertuig vas.
Gelukkig was niemand anders by die ongeluk betrokke nie.
Die presiese omstandighede rondom die insident is tans onbekend.
*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie en kan opgedateer word of opgevolg word sodra ons meer inligting ontvang.


