LifestyleNationalNews

Bloedrooi hemelruim bekoor talle in Gauteng

In die Middeleeue het boere van Suid-Duitsland volgens oorlewering geglo dat ‘n rooi sonsopkoms reën gaan bring, en ‘n rooi sonsondergang gevolg word deur ‘n droë dag.

Inwoners van die Vaaldriehoek wat soggens vroeg uit die vere is, kon Dinsdagoggend, 22 Februarie, sien hoe die sonsopkoms die ooste van die gebied bloedrooi kleur. Talle inwoners het die aand ook gesien hoe die ondergaande son die westekant rooi verf.

Die Vaaldriehoek se mense weet al dat ons besonder mooi sonsondergange sien wanneer daar heelwat stof in die lug is, maar die uitsonderlike rooi hemelruim is dié keer glo hoofsaaklik deur swaeldioksied veroorsaak.

Volgens Jan Meyntjes, voormalige risikobestuurder by groot ondernemings soos Barlow Rand en SA Breweries, sê inligting wat deur die European Centre for Medium-Range Weather Forecasts (ECMWF) beskikbaar gestel is, dui aan dat daar op 22 Februarie ‘n hoë vlak van swaeldioksiedbesoedeling oos van Gauteng was.

Meyntjes, ‘n admin op die Facebookgroep “Reënval in SA” het ‘n groot belangstelling in meteorologie en weersake. Hy verduidelik dat swaeldioksied deur verskeie bronne in die atmosfeer vrygestel word.

“Op wêreldskaal kom die belangrikste bron van swaeldioksied van vulkaniese uitbarstings. Verbranding van fossielbrandstowwe deur menslike aktiwiteite is ook ‘n groot bron, hoewel dit geleidelik in die meeste wêrelddele afgeneem het danksy toenemende omgewingsregulasies wat menslike gesondheid en ekostelsels beskerm. Veldbrande is van die ander bronne. Die veranderlike wat hier aangebied word, is die vertikaal-geïntegreerde hoeveelheid swaeldioksied vanaf die grond tot bo-op die atmosfeer. Dit word uitgedruk in kg/m².

“Tydens sonsopkoms is die son laag in die lug en dit stuur lig deur die dikste deel van die atmosfeer. ’n Rooi lug suggereer ’n atmosfeer gelaai met stof- en vogdeeltjies. Ons sien die rooi, want rooi golflengtes – die langste in die kleurspektrum wat vir die oog sigbaar is – breek deur die atmosfeer,” sê hy.

In die Middeleeue het boere van Suid-Duitsland volgens oorlewering geglo dat ‘n rooi sonsopkoms reën gaan bring, en ‘n rooi sonsondergang gevolg word deur ‘n droë dag. In Antieke tye is geglo dat so ‘n ongewone rooi sonsondergang die voorspel tot ‘n oorlog is. Met gerugte van oorlog in die Oekraïne kan ons net hoop die Vaaldriehoek sit ver genoeg van die vuur af!

 

Dié aanskoulike bloedrooi sonsondergang is die aand van 22 Februarie deur Vaalweekbladleser Elma Rawlins in die rigting van Carletonville afgeneem.

 

 

******************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button