R700 000 voertuig glo ‘nie goed genoeg’ vir Sedibeng se burgemeester nie
Die Demokratiese Alliansie (DA) sê ’n Mercedes-Benz GLB (Z247) voertuig wat vir die uitvoerende burgemeester van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, rdl. Lerato Maloka, aangeskaf is vergader stof omdat sy glo weier om die voertuig te gebruik.
Volgens ’n verklaring wat die DA die afgelope week uitgereik het weier Maloka om die voertuig te gebruik omdat die voertuig wat aangekoop is nie aan haar spesifikasies voldoen nie.
Die voertuig het belastingbetalers glo R696 611.99 uit die sak geruk.
“Dit is belaglik as mens in ag neem dat die munisipaliteit in ’n finansiële krisis gedompel is en nie in staat is om voldoende dienste aan sy inwoners te lewer nie.
“Die inwoners van Sedibeng het nie toegang tot teerpaaie nie en van die paaie wat geteer is, is vol slaggate aangesien daar nie behoorlike gereelde instandhouding van paaie is nie.
“Daar is ook ‘n gebrek aan behoorlike sanitasie aangesien rou riool vanaf die hoofrioolstelsel oral in die strate vloei omdat die munisipaliteit versuim het om die rioolpype in stand te hou,” sê Kingsol Chabalala, lid van die provinsiale wetgewer en die DA se hoof van die Emfuleni-Noord-kiesafdeling.

Die inligting oor die voertuig is deur die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (COGTA), Lebogang Maile, onthul in reaksie op vrae in die Gautengse provinsiale wetgewer.
Volgens Maile was die voertuig splinternuut en is die kostebeperkingsregulasies gevolg.
Die voertuig is intussen in glansswart viniel-toegedraai teen ’n totale koste van R29 300,85, maar die burgemeester weier glo steeds om die motor te gebruik.
“Dit is ‘n totale vermorsing van die munisipaliteit se gelde en ‘n skande dat die burgemeester haar ego wil voed ten koste van ons mense.
“Inaggenome die huidige finansiële status van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, moet die burgemeester minder aan luukshede bestee en meer op dienslewering fokus,” sê Chabalala.
Die DA is van plan om opvolgvrae in die Gautengse provinsiale wetgewer te rig om vas te stel watter soort voertuig tans deur die burgemeester gebruik word en waar dit vandaan kom.
Die DA wil onder meer weet of die burgemeester tans ’n voertuig huur, hoeveel die munisipaliteit per maand daaraan spandeer en wat van die voertuig gaan word wat vir die burgemeester aangeskaf is.
Opdatering: Die Uitvoerende Burgemeester van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit, rdl. Lerato Maloka het intussen laat gesê sy weier nie om die aangekoopte Mercedes-Benz GLB (Z247) te gebruik nie, maar het bewus geword van moontlike onreëlmatighede met die verkryging van die voertuig.
Die burgemeester het in ‘n verklaring teruggekap en gesê sy sal met die voertuig wat deur haar voorganger gebruik is ry tot kwessies rondom die verkrygde voeruig uitgesorteer is.
“Die burgemeester het besluit om nie al hierdie kwelpunte oor die hoof te sien nie en wag tans op administrasie om uitklaring te oor die saak te gee.
“Die Uitvoerende Burgemeester fokus daarop om die beloftes wat sy aan die mense van Sedibeng gemaak het, na te kom en te verseker dat dienslewering geskied,” het Saviour Kgaswane, die waarnemende hoof van kommunikasie by die Sedibeng Distriksmunisipaliteit in ‘n verklaring gesê.



