VANDERBIJLPARK. – Die Covid-inperking van die afgelope twee jaar kon nie daarin slaag om die spoed van die Vaaldriehoek se junior atlete te breek nie.
Een van die uitblinkers is Werné Botes (8) van Laerskool Kollegepark, wat verlede jaar die prestasie behaal het om in Suid-Afrika se Sport-Sterre Top Tien-lys vir dogters o/7 in die 60 meter-naellope opgeneem te word.
Vanjaar het Werné reeds tot by Sedibeng-vlak gevorder en is in die Vaaldriehoekspan opgeneem. Dié jong blits het al van haar Graad R-jaar af uitgeblink en toe reeds ‘n Gauteng-sertifikaat vir haar eerste plek in die 60m en 80m ontvang.
Pa Werner en Ma Liezel Botes sê hulle is baie trots op hul talentvolle dogter se prestasies en is beslis haar grootste ondersteuners. Werner was op skool self ‘n uitblinker-atleet en die sportiewe egpaar oefen ook graag in die gym.
Werné is ‘n toegewyde atleet wat vier keer per week met hart en siel oefen. Sy word afgerig deur die bekende Herman Venske. Buiten atletiek is sy ook mal oor netbal. Hou dié donkerkoppie gerus dop want sy gaan ongetwyfeld nog baie van haar sportdrome bewaarheid.


******************************************************************************************


