News

Teixeira voltooi diploma te midde van burgemeesterspligte

Opoffering, dissipline en slapelose nagte het Peter Teixeira gehelp om sy studies met die eise van sy burgemeestersamp te balanseer.

MEYERTON – Midvaal se uitvoerende burgemeester, rdh. Peter Teixeira, het ’n gevorderde diploma in openbare administrasie aan Mancosa voltooi terwyl hy sy pligte as burgemeester behartig het.

Die kwalifikasie, op vlak 7 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR), het hom 12 maande geneem om te voltooi.

Teixeira sê dit was nie ’n maklike pad nie. Die toenemende eise van sy werk het dit moeilik gemaak om sy studies en professionele verantwoordelikhede te balanseer.

’n Trotse Peter Teixeira en sy vrou, Refiloe, tydens die diplomaplegtigheid. Foto: Verskaf

“Dit het opoffering, dissipline en baie slapelose nagte geverg, maar ek het geweet hoe belangrik dit vir my was om hierdie doelwit te bereik,” sê hy.

Teixeira, wat reeds ’n diploma in sportbestuur het, wou sy ervaring in regering aanvul met ’n kwalifikasie wat sy begrip van die staatsdiens en administrasie sou versterk.

Hy sê die studies het sy kennis van plaaslike regering, openbare beleid, leierskap, munisipale administrasie en dienslewering uitgebrei.

Volgens hom het hy ook ’n beter begrip gekry van hoe staatsinstellings bestuur behoort te word en hoe beleid ontwikkel en toegepas kan word om gemeenskappe beter te dien.

Teixeira bedank sy vrou en familie vir hul ondersteuning en aanmoediging gedurende sy studies.“Hul ondersteuning het ’n groot verskil gemaak en my gehelp om te volhard, selfs wanneer dinge moeilik geraak het.”

Vir hom is die prestasie ’n herinnering dat mense met vasberadenheid en dissipline steeds hul doelwitte kan bereik, ongeag hoe veeleisend die lewe raak.

“Dit gaan nie net daaroor om nog ’n kwalifikasie agter my naam te voeg nie, maar om persoonlik en professioneel te groei en dit wat ek geleer het te gebruik om ’n groter bydrae tot die gemeenskappe wat ek dien, te lewer.”

Peter Teixeira het sy burgemeesterspligte en studies gebalanseer om ’n gevorderde diploma in openbare administrasie aan Mancosa te voltooi. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button