Motorfietsongeluk met taxi – saak van strafbare manslag ondersoek
Die familie van ‘n motorfietsryer wat in ‘n ongeluk met ‘n minibus taxi dood is, glo nie dat hy in die taxi se sykant vasgery het nie. Hulle glo die taxi het hom van sy motorfiets af gestamp.
VEREENIGING. – Vaalweekblad het onlangs berig oor ‘n man in sy 50’s wat dood is toe hy Dinsdagoggend, 5 April in Blackwoodstraat met ‘n taxi gebots het.
Volgens ‘n verklaring van ER24 het die oorledene blykbaar met sy motorfiets in die sykant van ‘n taxi vasgery.
Die familie van Samuel James Faasen (53), die oorledene, glo egter nie hierdie weergawe nie.
Hulle glo die bestuurder van die taxi het Faasen van die motorfiets af gestamp.
Faasen se seun, Martin van den Berg, sê remmerke op die pad wys dat die taxi van die linkerbaan af oorgekom het om regs te draai en voor Faasen, wat in die regterbaan was, ingery het.
Volgens Faasen se vrou, Candy, was Faasen, ‘n passer van beroep wat by Azam Fabrication gewerk het, na die Mooilande-kleinhoewes op pad toe die ongeluk gebeur het.
Hoewel Faasen sy lewe in die ongeluk verloor het, het die bestuurder van die minibus taxi beserings vrygespring.
Die polisie sê ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek.
Volgens kapt. Fikile Funda, ‘n woordvoerder van die polisie in Vereeniging, word verklarings in so ‘n geval by getuies afgeneem en word die saakdossier daarna aan die aanklaer oorhandig om te besluit wie verkeerd was.
“In hierdie stadium is dit moeilik om te sê wie vir die ongeluk verantwoordelik was.
“Ons het verklarings by ooggetuies afgeneem en die ondersoek duur voort.”
Faasen word oorleef deur sy vrou Juanita Candy Faasen (57), sy kinders Hattie (40), Sharlene (26), Frikkie (36), Ciska (35), Martin en Tris, sowel as sy kleinkinders, Mariole (5), Juan (17), Lourens (14), LeeAnn (12), Ziska (12) en Austin (5).
‘n Gedenkdiens vir Faasen sal volgens die familie Woensdag, 27 April op die hoek van Blackwood- en Heferstraat in Drie Riviere gehou word, waartydens ‘n kers vir hom aangesteek sal word.
Mense wat die diens wil bywoon moet voor 24 April sê of hulle dit gaan bywoon.
Skakel Ciska by 081 763 2320 of Tris by 073 986 4030 om te laat weet.



