Noodherstelwerk aan gevaarpad langs EkoPark
Vrywilligers wat graag by die werksaamhede betrokke wil raak, of inwoners en sakeondernemings wat ‘n bydrae vir verdere herstelwerk wil maak, kan Stephen by 082 573 1190 kontak.
VAALPARK. – Motoriste kan nou weer met meer gemoedsrus op Paardebergweg en Minnaarstraat ry nadat die nie-winsgewende organisasie, Bring Hoop Vaaldriehoek, verlede week ingespring het om noodherstelwerk te doen.
Dié paaie, wat baie verkeer dra, word lankal as hoë-ongeluksones bestempel weens die talle diep slaggate wat gedurende die afgelope weke se swaar reën vererger het. Bring Hoop het Donderdagmiddag om 16:00, bygestaan deur plaaslike sakeondernemings en vrywilligers, ingespring en tot laat gewerk om die gevaarlikste gate op te vul.
Daar is veral gefokus op groot gate in Paardebergweg langs die Ekopark. 145 sakke teer is hiervoor gebruik.
“Ons wou voor die reën wat vir die Paasnaweek voorspel is, begin werk om verdere skade aan die pad te beperk. Ons bedank graag Triangle Ready Mix & Concrete Products wat skenkings vir Donderdag se noodherstelwerk gemaak het, en ook hul werkers en toerusting beskikbaar gestel het,” sê Stephen Venter van Bring Hoop Vaaldriehoek.
Dié organisasie en die Renegades het vroeër die maand ook die lang gras langs die R57, die hoofroete tussen Sasolburg en Vanderbijlpark, gesny en beplan om mettertyd ook die groterwordende slaggate op dié pad te herstel.
Vrywilligers wat graag by die werksaamhede betrokke wil raak, of inwoners en sakeondernemings wat ‘n bydrae vir verdere herstelwerk wil maak, kan Stephen by 082 573 1190 kontak.



‘n Werker lê in een van die gevaarlike slaggate om die grootte en diepte aan te dui voordat dit opgevul is.
****************************************************************************************************

