Pomptrokke slurp maandeliks duisende rande uit die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit terwyl pomstasies stukkend bly
Vrae word gevra rondom die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se onbeholpe bestuur van pompstasies en die duisende rande wat die munisipaliteit maandeliks aan sanitasievoertuie spandeer.
VEREENIGING. – Die Vryheidsfront Plus praat in hul nuutste verklaring van kostes wat maandeliks aan sanitasievoertuie spandeer word, terwyl die geld meer as genoeg is om byvoorbeeld gesteelde pompe te vervang of om agterstallige skuld aan Eskom te betaal.
Ten spyte hiervan gaan die munisipaliteit voort om maandeliks sanitasievoertuie ten duurste te huur.
Een voorbeeld hiervan is die Westside-rioolpompstasie waarvan die krag deur Eskom afgesny is weens ‘n agterstallige rekening van net R14 000.
Gerda Steyn, Vryheidsfront Plus-raadslid by die Emfuleni-munisipaliteit, sê: “Ten einde die probleem op te los, het Emfuleni ʼn sanitasievoertuig teen ʼn reuse koste van R200 000 gehuur om die riool gereeld uit te suig in stede daarvan om bloot die klein agterstallige bedrag verskuldig aan Eskom te betaal.
“Daar kan dus net gewonder word of die reëling gemaak is om werklik die rioolprobleem in dié geval op te los en of dit oor die tender gaan wat uitgedeel is vir die huur van die sanitasievoertuig. Die VF Plus sal dit ondersoek.
“Wat die situasie meer skreiend maak, is die feit dat die riool wat deur die Westsidepark-pompstasie hanteer moet word, nou in die Rietspruit inloop.
“Die besoedeling van die Vaalrivier en omliggende riviere weens die ANC se wanbestuur van Emfuleni gaan dus onverstoord voort ten spyte van vorige ingrypings wat reeds plaasgevind het, soos die ontplooiing van die weermag om pompe te herstel en te beskerm,” sê Senekal.
Senekal sê openbare fondse wat so vermors word, kom van die Emfuleni-munisipaliteit en die nasionale fiskus.

ʼn Verdere voorbeeld van onbeholpe bestuur is dié van pompstasie 21 waarvan die pomp alreeds ʼn geruime tyd gelede gesteel is.
“Alhoewel die pomp slegs R8000 kos, is daar nog geen poging aangewend om dit te vervang nie.
“Die koste van die sanitasievoertuig wat nou gehuur word om die Westsidepark-pompstasie te diens, sou hier ook meer as genoeg gewees het om die gesteelde pomp te vervang.
“Die riool wat deur pompstasie 21 hanteer moet word, word nou ook deel van die rioolstroom wat uiteindelik in die Rietspruit beland.
“Dit is baie duidelik dat die ANC-regering in die Emfuleni-munisipaliteit geen gewete het as dit kom by sy verpligting om goeie diens te lewer soos voorgeskryf in die Grondwet nie en dat sy fokus eerder is op die uitdeel en ontvang van tenders,” meen Senekal.
Volgens Senekal sal die Vryheidsfront Plus die saak ondersoek.

