‘Grypvoorval’ by laerskool: Dié verdagtes “weens ouderdom vrygelaat en in sorg van hul ouers geplaas”
Die polisie van Vereeniging sê drie mans wat aangekeer is nadat hulle glo Saterdagoggend (28 Mei 2022) 'n kind by 'n laerskool probeer gryp het tydens 'n sportdag is “weens hul ouderdom” vrygelaat in die sorg van hul ouers.
VEREENIGING. – Die voorval het glo Saterdagoggend (28 Mei 2022) by Laerskool Suikerbos gebeur en word nou deur die polisie se spesialiseenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings ondersoek.
Die skool het in ‘n verklaring gesê die kinders – onderskeidelik 3 en 12 – is veilig en die verdagtes in hegtenis geneem.
Volgens die woordvoerder vir die polisie in Vereeniging, kapt. Fikile Funda, is die verdagtes formeel aangekla en is hul waarskuwingsverklarings verkry.
“Hulle is weens hul ouderdom aan hul ouers se sorg vrygelaat,” sê Funda.
‘n Afrigter wat gehelp het om die mans aan te keer sluk egter swaar aan hierdie verduideliking wat deur deur die polisie gegee word.
“Die verdagtes is beslis nie minderjarig nie,” meen hy.
Vaalweekblad is ook in besit van beeldmateriaal waar een van die verdagtes verduidelik dat dit alles ‘n misverstand is en dat hy net ‘n snotjie van een van die slagoffers se neus wou afveë.


