LifestyleLocal newsNationalNews

VdbPark-skrywer vind verrassende verband tussen Oscar Pistorius en Boereheld

Van die inligting wat Naomi reeds versamel het, is ingesluit in haar debuutboek wat nou te koop is.

 

VANDERBIJLPARK. – Wanneer mens begin rondkrap in familiegeskiedenisse kom jy soms af op vreemde gebeure waarvan jy niks geweet het nie. Jy vind dalk selfs ‘n paar skokkende onthullings in jou eie stamboom!

Lees maar die Vanderbijlparkse verpleegster, Naomi Keyter (53), se boek ‘Dooies praat nie… maar papier-kadawers doen’, en jy sal verstaan…
Met die uitlê van familiebande, amptelik bekend as genealogie, kom jy agter niemand se sondes, skandes en skaamtes is veilig nie. Jy dink dalk jou familie se geheime lê veilig begrawe, maar iewers langs die pad is daar voetspore op papier agtergelaat!

Naomi, ‘n lid van die Vaaldriehoektak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, is tans besig om ‘n databasis op te stel van bekende moordenaars en hoe hulle met mekaar verband hou.
“Ek het agtergekom daar is nie eintlik ‘n groot databasis in Suid-Afrika wat ons vir misdaadgenealogie kan gebruik nie,” se Naomi. “Ek het toe jare terug begin om navorsing te doen oor die genealogie van opspraakwekkende moordenaars omdat ek agtergekom het daar is ‘n gaping in hierdie tipe inligting, en daardie foto’s en stories is besig om weg te raak. Dis iemand se verhaal – en hierdie stories moet gebêre word,” sê sy.

Van die inligting wat Naomi reeds versamel het, is ingesluit in haar debuutboek wat nou te koop is.
Naomi doen in haar vrye tyd genealogiese navorsing en saam met Daniel Lotter (48), ‘n programbestuurder en skrywer van nie-fiksieboeke, het hulle al op vele interessanthede afgekom. So is daar byvoorbeeld ‘n onverwagse verband gevind tussen die Boereheld Jopie Fourie, wat in 1914 tereggestel is; Carl Pistorius, wat in die 1950’s gehang is nadat hy sy twee kinders vermoor het, en die lemnaeler Oscar Pistorius, wat tronkstraf uitdien na die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp.
Volgens Daniel was Jopie in ‘n kinderlose huwelik met Susanna Elizabeth Carolina Engelmohr. Na Jopie se dood het Susanna weer getrou, dié keer met ‘n Pistorius-man. Die oudste van hul drie kinders, Carl, was vier dekades later, in Januarie 1954, in die nuus toe hy sy twee kinders in hul beddens doodgeskiet het. Hy en sy vrou was besig om te skei en hy was glo bang hy sou toesig oor sy kinders verloor. Hy is na die moorde gehang – in dieselfde tronk waar Jopie, sy ma se eerste man, voor ‘n vuurpeloton gesterf het. Carl se neef, Bok Pistorius, was op sy beurt die oupa van Oscar Pistorius.

Volgens Daniel het hy in die verlede al baie van Naomi se navorsing in sy boeke gebruik.
Naomi help mense ook dikwels om hul familielede of ou vriende op te spoor.

“Ek het eintlik al ontelbaar baie mense gehelp. Partykeer wil mense nie glo dat hulle familie is van party ander mense nie, dan haal jy maar die papier-kadawers uit om die stories te vertel,” sê sy.
“Ek is nederig opgewonde oor my debuutboek en wil almal bedank wat gehelp het om dit moontlik te maak: My man, my kinders, hul gades, my sibbe en hul families vir hul voortdurende ondersteuning. Spesiale dank ook aan Hendrik Nolte wat hierdie bal laat rol het.”
* ‘n Getekende kopie van Dooies praat nie… maar papier-kadawers doen kan teen R300 (posgeld uitgesluit) bestel word by 079 563 0088 of naominavorsing@gmail.com.

Naomi Keyter van Vanderbijlpark, skrywer van die boek, Dooies praat nie… maar Kadawers doen.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button