Local newsNewsNews

Dreigbriewe teruggetrek: Inwoners kan nie meer ‘emosionele mishandeling’ en spanning hanteer nie

Inwoners van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit wat onlangs dreigbriewe van die munisipaliteit ontvang het met betrekking tot agterstallige water- en elektrisiteitsrekeninge sê hulle kan nie meer die emosionele mishandeling en spanning van hierdie druk hanteer nie.

VEREENIGING. – Sommige inwoners het dié week dreigbriewe van die munisipaliteit se skuldinvorderaar, Ntiyiso Consulting Group, ontvang waarin daar gedreig is dat hulle geswartlys sou word, selfs in gevalle waar die rekeninge ten volle betaal is of daar spesifiek reëlings getref is om die agterstallige bedrae oor tyd af te betaal.

Die dreigbriewe is Donderdag (9 Junie 2022) teruggetrek en ’n verskoning aan die gemeenskap aangebied nadat samesprekings met die munisipaliteit daaroor gevoer is.

Volgens Dalene Venter, wyksraadslid vir Drie Riviere wat vir inwoners in die bres getree het, kan die korrespondensie wat hulle ontvang het geïgnoreer word aangesien die dreigemente dat inwoners geswartlys gaan word verkeerdelik gedoen is.

Die afsny van kragtoevoer deur die rooimiere is volgens Venter ook nou gestaak.

Mense wie se rekeninge foutief is word aangeraai om na die munisipale kantore te gaan om dit reg te stel.

Venter sê: “As DA wyksraadslid van Drie Riviere sien ek dit nie net dit as uiterse swak bestuur van Emfuleni nie maar ook ’n aantasting van die inwoners se basiese regte onder die grondwet van Suid Afrika.”

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se skuldinvorderaar het intussen verskoning gevra vir die dreigbriewe. Foto: Verskaf

 

“Mense het werklik vreeslike probleme met hulle rekeninge. Watertoevoer word afgesny gebaseer op skattings van watermeterlesings en elektrisiteit word afgesny op skattings in gevalle waar die meters al drie jaar gelede uitgehaal is en inwoners nie ’n rekening ontvang het nie.

“In sommige gevalle moet inwoners dan nog aansluitingsfooie ook betaal.

“Die inwoners kan nie meer die emosionele mishandeling en spanning hanteer van hierdie druk nie.

“Inwoners probeer om hulle rekeninge uit te sorteer en staan vir ure in rye by die munisipale kantore, net om verder van bakboord na stuurboord gestuur te word.

“Inwoners moet groot bedrae betaal op die skattings. Meeste mense het nie die geld nie en moet gevolglik geld leen.

“By die munisipale kantore word hulle verseker dat die krag aangeskakel sal word maar dikwels wag inwoners dae lank vir die krag om aangeskakel te word,” sê Venter

“Nadat rekeninge dan uiteindelik uitsorteer is en mense deur hierdie hel moes gaan kry hulle dan boonop ’n prokureursbrief waar hulle gedreig word om selfs hoër bedrae te betaal of hulle sal op ‘n swartlys geplaas word,” sê sy.

Venter sê inwoners het vrae hoe die bedrae wat hulle verskuldig is uitgewerk word aangesien meters jare gelede uitgehaal is en die munisipaliteit gevolglik die bedrae moet skat.

“Die selfde probleem geld in gevalle waar watermeterlesings nie gereeld gedoen kon word nie weens foutiewe meters,” sê sy.

Dalene Venter, wyksraadslid vir Drie Riviere, sê inwoners kan nie meer emosionele mishandeling en spanning van hierdie druk hanteer nie. Foto: Christiaan Cloete
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button