Local newsNewsNews

Willem Botha – Vader van vele

Ons maak nader kennis met Laerskool D.F Malerherbe se skoolhoof, Willem Botha. Hy is een van daardie gebore onderwysers met ‘n passie vir sy skool, sy taal en elke kind in die skool.

VANDERBIJLPARK. – Daar is mense wat onderwys as beroep gekies het en dan is daar gebore onderwysers.

Hulle kan nou maar nie van die onderwys wegbreek nie, al wil hul ook. Een so ‘n persoon is die huidige hoof van die Laerskool D.F Malherbe, Willem Botha.

Die gebore en getoë Vanderbijlparker het sy laerskooldae aan die Laerskool Hendrik van der Bijl geslyt en in 1986 aan die Hoërskool Vanderbijlpark matriek geskryf.

Die hoof kry ‘n waterdoop van D.F se hokkiespan. Foto’s: Verskaf

Vier jaar later was hy terug by sy alma mater om Afrikaans aan te bied.

Na vele jare by die Bijlers het hy die onderwys vir ‘n wyle vaarwel toegeroep en van Bloemfontein tot in Alberton vir ‘n skryfbehoefte-groep gewerk.

Alhoewel dit vir hom lekker was, het hy tog die onderwys gemis. Sy avontuurlus was egter nie geblus nie en hy het vir drie jaar in die VSA gaan onderwys gee. “Die was ‘n fees van ‘n ondervinding,” som Willem sy tyd in Noord-Carolina op.

Daarna het hy weer vir poste in Suid-Afrika geskiet en het ‘n pos as departementshoof by die Laerskool D.F Malherbe gekry.

Willem saam met van die studente by die skool in die VSA

Na al sy jare in die buiteland was dit seker net logies dat hy toe Engels aangebied het, alhoewel hy erken sy moedertaal is steeds sy gunsteling.

In 2017 is hy as adjunkhoof by die Laerskool Midvaal in Meyerton aangestel, alvorens hy in Augustus 2021 as hoof van D.F Malherbe aangestel is.

Willem sê hy mis die interaksie met die kinders elke dag. ‘n Hoof is meer kantoorgebonde. Tog probeer hy steeds daardie band behou.

Willem saam met D.F se hokkiespan in 2015. Die span het derde by die Champs of Champs in Randburg geëindig. Dit is waar die onderskeie streekwenners teen mekaar speel.

Die onderhoud is hoeka onderbreek deur twee dogters wat skamerig die kantoor betree. Hul juffrou het hul gestuur sonder om te sê waarvoor.

Hulle gesigte straal toe hy hulle plegtig bedank vir hul hulp die vorige dag by die netbalwedstryde wat die skool aangebied het. Elkeen kan ook vir hul ‘n nuwe potlood kies waarop “super ster” gedruk is.

“Oe my hart,” sê die een op pad uit. Albei baie in hul skik deur hul hoof se mooi woorde aan hulle.

Vir Willem is dit belangrik dat die kinders goeie waardes by die skool leer. Een van sy leuses wat hy die kinders leer is: “Werk vir dit wat jy wil hê. Alles val nie net uit die lug uit nie.”

Hy probeer ook om ‘n positiewe gesindheid by die kinders te kweek en aan te moedig. “Ek glo daaraan om positiewe erkenning te gee. Kinders moenie afgekraak word nie,” beduie hy.

Sy liefde vir sy taal kom sterk na vore. “Ons gaan ‘n SER-aand hou aan die einde van die jaar. Elke klas oefen hard aan hul FAK liedjies,” vertel hy trots. “Ons sing ook baie Afrikaanse liedjies tydens die saalopeninge.”

Willem en die hoofleiers van 2022 tydens die herdenking van die Hoërskool Driehoek-ramp. Al vier die leerders wat hul lewens verloor het, was op laerskool in sy klas. Van links is Christian Janse van Rensburg, Divan Knoetze, Willem Botha, Daniella Grobbelaar en Eliizabeth Aucamp.

Willem probeer so ver as moontlik D.F se sportspanne ondersteun en hul wedstryde bywoon. Die slag as hy wel ‘n tyd weg van die skool af het, werk hy in die tuin.

Dan hou hy ook eksotiese voëltjies aan, waaronder gaulines en kanaries. “Dis my stokperdjie,” vertel hy.

Hy het ook ‘n rifrug en ‘n worshond wat hy aangeneem het. “Ek het die worshond gekry nadat een van die onderwyseresse in Meyerton laat weet het haar vriendin het ‘n hondjie opgetel.

“My groot hond het op daardie stadium getreur omdat ons kleiner hondjie dood is. Toe neem ek die worsie aan en sy word net al hoe vetter en vetter.

Groot was my verbasing toe sy nege kleintjies kry! Gelukkig kon ek vir almal goeie huise kry,” lag hy goedig.

Self het hy nie kinders nie, maar hy sê: “Ek is die vader van vele. Die skool is my lewe. Jy weet, ander ouers lê wakker en bekommer hulle oor hul een of twee kinders, ek bekommer my oor my 940 kinders.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button