Kragellende duur voort in Drie Riviere
Tegnici soek steeds na die fou terwyl inwoners al dae lank op antwoorde en krag wag.

VEREENIGING – Sommige inwoners van Drie Riviere is sedert Donderdag sonder elektrisiteit, terwyl ’n tweede fout ná Sondag se geskeduleerde instandhouding nog huishoudings sonder krag gelaat het.
Daar is nog geen geraamde tyd wanneer die kragtoevoer herstel sal word nie.
Volgens wyksraadslid Dalene Venter is daar twee afsonderlike probleme. Die eerste is ’n kabelfout wat dele van die woonbuurt reeds sedert Donderdag raak. Die tweede hou volgens haar verband met die omskakeling van die kragtoevoer tydens Sondag se instandhoudingswerk.
Die werk by die Vereeniging DS-substasie sou op 1 November van 09:00 tot 19:00 plaasvind. Dit het onder meer die oordrag van die las van een kragtransformator na ’n ander behels.
Strate wat volgens Venter deur die kragprobleme geraak word, sluit Brandmuller, Athlone, Dee Drive, Orange Drive en Golf Road in, asook gedeeltes van Umgeni-, Brak-, Umtata- en Zambesistraat. Dit is nie ’n volledige lys nie.
Venter sê tegnici het die soektog na ’n kabelfout tot die gedeelte tussen Dee Drive en die substasie agter Eurospar beperk.
Hulle moet egter nog die presiese foutplek opspoor voordat die kabel oopgegrawe en gelas kan word. Volgens haar is munisipale tegnici besig om aan die probleem te werk.
Venter meen verouderde infrastruktuur is die grootste oorsaak van Drie Riviere se herhalende kragprobleme en sê instandhouding is lankal nodig.
Sy raam dat sowat 80% van die kabels in ’n swak toestand is en vervang moet word.
Sy sê huise in veral Peacehaven huisves nou meer mense, maar die kragnetwerk is nie opgegradeer om die ekstra verbruik te hanteer nie.
