Samewerking tussen landbougemeenskap en polisie lei tot inhegtenisname van plaasaanvallers
Dit is danksy samewerking tussen die polisie en die landbougemeenskap wat drie verdagtes in verband met 'n plaasaanval in hegtenis geneem is
SEDIBENG. – Die Vryheidsfront Plus sê goeie samewerking tussen die polisie en die landbougemeenskap het ‘n belangrike rol gespeel in die inhegtenisname van drie verdagtes wat ʼn egpaar in die Bloekomspruit-gebied in Sedibeng op hul plaas aangeval het.
Mnr. Basie en mev. Ina Rosslee is Sondagaand (10 Julie 2022) in hul woning oorval.
Volgens Kobus Hoffman, die Vryheidsfront se lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng wat ook op die provinsiale veiligheidskomitee dien, kon mev. Rosslee dit regkry om met aangrensende plaaseienaars kontak te maak wat hulle na die toneel gehaas het.
Die rowers het met hul buit in die rigting van Deneysville gevlug waar hulle in hegtenis geneem is.
Die egpaar se vuurwapens is onder meer teruggekry.
Mnr. Rosslee is erg aangerand en na ʼn hospitaal gebring.
Hoffman sê: “Te midde van geweld en politieke onsekerheid waarin boere in Gauteng gedompel is, is daar geen ander keuse nie as om betrokke te raak by gemeenskapsveiligheidsstrukture.
“Die VF Plus sal nie ophou veg vir ʼn spesiale landelike beveiligingseenheid wat hom toespits op die voorkoming van plaasaanvalle en veediefstal in samewerking met boere en ander veiligheidsforums nie,” sê hy.
