Petisie sodat Midvaal moet optree teen onwettige grondgrype
'n Inwoner van Midvaal het 'n petisie van stapel gestuur om die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit te dwing om teen onwettige grondgrype in die Midvaal-gebied op te tree.
MIDVAAL. – Die petisie volg nadat ‘n boer van ‘n plaas naby Henley-on-Klip gekla het oor onwettige plakkers wat op sy grond ontlas en skade op sy plaas aanrig.
Corné Kriek van die plaas Silwer Eike sê hy en sy familie loop deur omdat inwoners van twee onwettige plakkerskampe aan weerskante van hul familieplaas grensdrade en dakke steel en op hul grond ontlas.
Die Krieks het in 2021 bykans R1.5 miljoen se skade gelei toe voerbale en ‘n stoor deur plakkers van die omgewing aan die brand gesteek is, nadat die polisie vroeër die aand op ‘n onwettige sjebien toegeslaan het.
Een van die plakkerskampe is binne ‘n munisipale stortingsterrein.


Kriek kla ook dat die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit water vir die grondbesetters aanry.
Pierre Wheeler van Midvaal sê: “Grondgrype en die gevare wat daarmee gepaard gaan word daagliks ‘n werklikheid vir Suid Afrikaners.
“In Midvaal het ons ‘n geval waar dit op munisipale grond reg lanks ‘n boer se gronde plaasvind.
“Die onwettige plakkers rig baie skade aan en gebruik die boer se lande om te ontlas en te bemors,” sê Wheeler.

Wheeler sê: “Die vraag wat ontstaan is dat as die stadsraad hulle skouers vir hulle probleme optrek wat gaan hulle keer om ‘n polities-korrekte antwoord vir jou te gee die dag as dit in jou buurt gebeur?
“Ek vra dat ons as gemeenskap – nie net in Midvaal nie maar regoor die land – saam staan en hierdie petisie teken sodat die Midvaal stadsraad daadwerklik moet optree teenoor hierdie onwettige plakkers/grondgrypers.
“Daar moet na die belange van belastingbetalers gekyk word, sowel as die menseregte van die plakkers wat ‘n heenkome soek,” sê Wheeler.
Hy vra dat die stadsraad stanpunt inneem teen onwettige grondbesetting sodat die boodskap duidelik uitgedra word dat die munisipaliteit nie grondbesetting sal duld nie.

Teen Vrydagmiddag 12:00 het 438 mense reeds die petisie geteken.
Wheeler wil die petisie oor drie weke aan die Midvaal stadsraad oorhandig en van daar af nog steun kry om verdere druk op die munisipaliteit te plaas.
Kliek op die volgende skakels vir meer oor die petisie:
*Peter Teixeira, uitvoerende burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, het in ‘n verklaring gesê die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit was tot dusvêr baie suksesvol in die hantering van onwettige grondbesettings.
Volgens Teixeira het die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit die afgelope vyf jaar altesaam 250 onwettige grondbesettings in die Midvaal-gebied hanteer.
Hy sê die munisipaliteit het ook probleemareas geïdentifiseer en monitor dié gebiede gereeld.
Hy sê die munisipaliteit reken gemiddeld binne 48 uur met onwettige grondbesettings af sodra dit geïdentifiseer en aangemeld is.
Volgens Teixeira het die Munisipaliteit onwettige grondbesettingskomitees vir elke wyk, goedgekeurde standaardprosedures vir die hantering van grondvergrype, sekuriteits diensverskaffers en bewusmakingsveldtogte in plek om die kwessie van onwettige grondgrype aan te spreek.


