1924: Die geboorte van ‘n nuwe skool in Vereeniging – Laerskool Handhawer
Die Laerskool Handhawer is tot vandag toe steeds ‘n “handhawer” van die tradisies en kultuur van Vereeniging se reënboog-gemeenskap
Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na interessante mense en gebeure wat die stad deur die dekades help vorm het. Die totstandkoming van Laerskool Handhawer was een so ‘n merkwaardige gebeurtenis:
Die oudste Afrikaanse skool in Vereeniging, die Laerskool Handhawer, vier vanjaar sy 98ste bestaansjaar.
Aanvanklik was daar net een dubbel-medium skool, Selborne, in Vereeniging. Dié skool was oorkant die polisiestasie waar Sedibeng College vandag staan.
Die Laerskool Handhawer het hieruit ontwikkel en is amptelik op 1 April 1924 gestig.
Die eerste handgeskrewe notules dui aan dat daar destyds net 40 leerlinge was maar in Oktober 1924 het dit reeds aangegroei tot 185. Die klaskamers was in die geboue waar Sedgars vandag is, maar die leerlingtal het so vinnig uitgebrei dat die beskikbare ruimte gou onvoldoende was.
Die leerlinge is toe by die Gereformeerde kerk se geboue geakkommodeer terwyl bouwerk aan die volwaardige skool in Edwardstraat begin het.
Die eerste waarnemende hoof was Meester Wallie van der Walt, wie se dogter, tannie Elsa Coetzee, ook diep spore in Vereeniging se skoolkringe getrap het.
Die eerste volwaardige skoolgeboue het bestaan uit ses klaskamers, ‘n kantoor en administrasiegedeelte, ‘n siekekamer, ‘n kombuisie en ‘n klein personeelkamer. Soos wat die leerlingtal en personeelkorps aangegroei het, is die skoolgeboue met die jare ook uitgebrei. Die aangrensende ou tronkgebou uit sandsteen, wat op die hoek van Edwardstraat en Krugerlaan gestaan het, is in later jare platgeslaan om die skool se sportterrein te vergroot.
Die depressiejare van die 1930s het baie inwoners van Vereeniging ook laat klippe kou. Volgens Handhawer se rekords uit 1933 het die skool daardie jaar 4 pond, 10 sjielings en 5 pennies van die Provinsiale Administrasie ontvang as ondersteuning vir hul voedselskema. Dit was bedoel om bystand te verleen aan leerlinge wie se ouers geldelik swaargekry het. Vandag verskaf die skool steeds voedselhulp aan leerders uit mindergegoede gesinne.
Die jaar 1942 staan ook in die rekords uit as ‘n moeilike jaar, maar dié keer oor die koue winter. Dit was daardie jaar so koud dat die skool soggens ‘n uur later (om 09:00) begin het ter wille van kinders wat soggens met donkies en donkiekarretjies van omliggende plase af skool toe moes kom.
Verskeie susterskole het mettertyd uit Handhawer afgestig – skole wat vandag bekendstaan as Vereeniging Gimnasium, Laerskool Unitaspark, Roodtstuine, Laerskool Peacehaven en Laerskool Victory. Laasgenoemde het later weer met ander skole in die omgewing saamgesmelt.
Die Laerskool Handhawer is steeds ‘n “handhawer” van tradisies en kultuur, wat vandag nie meer net opleiding aan Afrikaanse kinders bied nie maar trots voorsiening maak vir die hele spektrum van die Vereeniging-middestad en twee kinderhuise se reënboogjeug.



Tragedie tref skool in 2005
Die Laerskool Handhawer het deur die jare ook sy kwota hartseer beleef. op 23 Maart 2005 is die Vaaldriehoek geruk toe drie geliefde onderwyseresse van die Laerskool Handhawer, vyf leerlinge van die skool en een van die onderwyseresse se dogters in ‘n gru-ongeluk in die Karoo dood is. Hulle was met die skool se bussie na ‘n netbaltoernooi in George onderweg.
Die drie staatmakers van die skool, mevv. Marlene Pelser (52), Linda le Grange (36) en Lizelle Myburgh (38), en vyf lede van die skool se ope-netbalspan, het in die ongeluk gesterf.
Die vyf oorledenes, almal netbalspelers, was Jo-Anne Maans (12), Kelly Holmes (12), Veronica van Rensburg (12), Jo-Marie Naudé (12), Maroise Geweldt (12) en mev. Myburgh se dogter, Elize (10), wat ‘n graad vyf-leerling van die Laerskool D.F. Malherbe in Vanderbijlpark was.
‘n Gedenksteen is later ter nagedagtenis aan die oorledenes by die skool opgerig.
Handhawer se bande met bekendes
Verskeie bekendes het deur die jare noue bande met die Laerskool Handhawer gehad. Die voormalige administrateur van Transvaal, Sybrand van Niekerk, was op sy dag ‘n wiskunde-onderwyser by die skool. Hy is later na Hoërskool Vereeniging gesekondeer.
Hy was van 1966 to 1979 administrateur van Transvaal en het in 1981 ‘n lid van die Parlement geword. In 1982 was hy ‘n stigterslid van die destydse Konserwatiewe Party. Hy is in 2011 in die ouderdom van 97 in Pretoria oorlede.
* Onder die bekende sportlui wat hier skoolgegaan het, was Willie Ludick en sy broers, wat later jare almal diep spore op die terrein van boks getrap het.
Die Morkel-broers, Albie, Morné en Malan, wat later wêreldbekende krieketspelers geword het, is ook oudleerlinge van Laerskool Handhawer.
*********************************************************************************************************************************

