Downsie-Liefde: Milanka is ‘n PlayStation ‘pro’
Nasionale Downsindroom-bewusmakingsdag word in Suid-Afrika in Oktober gevier. Die doel van Downsindroom-bewusmaking fokus daarop om bewustheid te skep oor die regte en vermoëns van mense met Downsindroom.
VANDERBIJLPARK – PlayStation is steeds Milanka McDonald (een van die Vaal se geliefde Downsies) se gunsteling tydverdryf. “Sy het haarself reeds as ‘n ware ‘pro’ bewys,” skerts haar ma, Tania.
Hierdie stokperdjie kom egter nie sonder uitdagings nie.
“Weens haar Scheuermann-siekte ervaar Milanka erge rug- en skouerpyn, ’n probleem waaraan ons in die nabye toekoms verdere aandag sal moet gee,” verduidelik Tania.
“As ons terugkyk op die afgelope jaar, is ons harte egter vol dankbaarheid vir die mooi oomblikke, maar ons is ook bewus van die uitdagings wat voorlê.”
In Julie het Milanka vir die eerste keer in ’n lang tyd ernstig siek geword nadat sy met die RS-virus (respiratoriese sinsitiale virus) en longontsteking gediagnoseer is. Sy het drie weke lank ’n moeilike stryd in die Midvaal-hospitaal gevoer.
Maar selfs gedurende hierdie moeilike tyd het Milanka haar eie planne gehad!
“Sy het mamma duidelike instruksies gegee en haar 27ste verjaardag tot in die fynste besonderhede beplan. Van die gaste en ballonne tot die koek en watter geskenke wie moes bring – niks is aan die toeval oorgelaat nie,” vertel Tania.
Die uiteinde was dat Milanka haar spesiale dag terdeë geniet het.

Uitdagings
In September het Milanka haar opvolgafspraak by haar hartspesialis, dr. Kenny Govendrageloo, gehad.
Tydens die ondersoek is daar opgemerk dat die drukking onder die mitraalklep effens versleg het weens die membraan wat daar groei. Dit is nog ’n aspek van haar gesondheid wat noukeurig gemonitor moet word.
Een van die grootste uitdagings vir Milanka en haar ouers is haar gewig.
“Dit is belangrik om te verstaan dat gewigsbeheer by mense met Downsindroom dikwels meer kompleks is as bloot eetgewoontes. Verskeie faktore kan ’n rol speel, en dit verg geduld, begrip en die regte ondersteuning.
“Ons het reeds begin om aandag hieraan te gee en vertrou dat ons dit stap vir stap sal kan hanteer. Soos met elke ander berg wat ons al moes uitklim, glo ons ook dat hierdie een oorkom kan word,” sê Tania.
Downsie-Liefde
Downsie-Liefde is ‘n fondsinsamelingprojek vir Milanka, maar dien as baie meer.
Een van die aspekte wat deel vorm van die fondsinsamelingsprojek is Milanka se kuns- en kunsvlyfprodukte wat by markte ens. verkoop word.
Dit gee haar die geleentheid om kreatief te wees en om met ander mense in aanraking te kom.
“Ons nooi die publiek hartlik uit om ons by die komende Kersmarkte te ondersteun. Elke besoek, aankoop en gebaar van ondersteuning help ons om voort te bou aan die droom agter Downsie-Liefde.
Boodskap aan gemeenskap
“Ons wil graag elke persoon, onderneming en ondersteuner bedank wat reeds deel van hierdie reis is. Julle belangstelling, ondersteuning en omgee maak ’n werklike verskil in Milanka se lewe.
“Ons pad is nie altyd maklik nie, maar met liefde, geloof en die ondersteuning van ons gemeenskap glo ons dat selfs die grootste berge geklim kan word,” sê Tania.
Vir meer inligting of ondersteuning by die komende Kersmarkte kan Tania by 084 250 5178 gekontak word.
- Wêreld Downsindroomdag word op 21 Maart gevier – die datum: 21/3 verwys na die ekstra 21ste chromosoom wat Downsindroom veroorsaak).

