Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ek blaas stoom af oor mediese fondse en hospitale. Al gehoor van die Wet van Transvaal? Ja, dis al wat geld!
RUBRIEK. – Dit voel vir my Suid-Afrikaners word om elke hoek en draai deur mediese fondse en van die hospitale ingeloop.
Onlangs hoor ek van ‘n vrou van 82 wat in Junie vanjaar met kanker gediagnoseer is. ‘n Gewas is in haar dikderm gevind wat haar baie pyn en ongemak veroorsaak.
Sy behoort aan ‘n mediese fonds, maar dit het drie maande geduur alvorens daar met behandeling begin is. Uiteindelik het ‘n hospitaal laat weet sy moet om 06:00 een oggend aanmeld vir ‘n 10 minute bestralingsessie.
Sy kon kies tussen 06:00 die oggend of 19:00 die aand. Om darem ‘n siek vrou van 82 op sulke tye te probeer inpas, is ook nie reg nie.
Nog is dit einde niet. Die oggend van die eerste afspraak bel die hospitaal (‘n privaat hospitaal) haar om 05:00 net om te sê hul enigste bestralingsmasjien is buitewerking. Teen daardie tyd was die vrou al goed moedeloos.
Twee dae later kon hul darem met die bestraling en chemoterapiepille begin. Dit skryn ten hemele. Om iemand van 82 met kanker te diagnoseer en dan drie maande te wag voordat iets daaromtrent gedoen word!
Die ander ding wat my dwars in die krop steek is die mediese fondse met hul hemelhoë premies wat elke maand betaal moet word, maar met spaarplanne of dag-tot-dag voordele wat binne ‘n paar maande uitgeput is.
Dan wat? Skielik moet doktersbesoeke en medisyne uit eie sak betaal word, plus die premies per maand.
Sonder ‘n mediese fonds kan mens ook nie. Daar sonder sou ek nie verlede jaar in ‘n privaat hospitaal vir my lewe kon veg teen Covid nie.
Die grustories oor staatshospitale laat mens ook maar oë toeknyp en betaal. Onlangs toe ek die onderhoud met Sebastiaan Kock gevoer het, het hy en sy ma vertel van sy nagmerrie tyd in ‘n plaaslike staatshospitaal.
Nie net moes sy ma vir hom kos vat nie, sy moes elke dag pleit dat hul sy wond skoonmaak en die kolostomie-sakkie leegmaak om seker te maak die vuilgoed loop nie in die wond in nie.
Hy het ook eers net op ‘n plank gelê want daar was nie beddens beskikbaar nie. Dit terwyl sy ma gesien het hoe staan daar beddens voor die teater en roes. Teen die tyd wat hy wel ‘n bed gekry het, was daar nie vir hom ‘n kombers nie.
Sy het vir hom ‘n kombers gevat, wat oornag verdwyn het en sy die volgende dag self weer gaan loop uitgrawe het waar dit weggesteek was.
Hy vertel hoe sy bed op ‘n stadium langs ‘n wasbak gestaan het en kokkerotte op hom geval het. Nadat hul gekla het, het sy bed langs ‘n stukkende venster beland.
Hy het weke gewag voordat hul noodsaaklike operasies aan sy skouer en gewrig kon doen. In die tyd moes hy in die hospitaal bly want daar is gesê boek hy uit, skuif hul hom tot heel onder aan die waglys.
Gruverhale soos die is algemeen. Wat staan mens te doen? So kan ons nie aangaan nie, maar ja totdat iemand êrens genade begin toon, is ons aan die ou wet van Transvaal oorgelewer.
Vir die jongeres wat nie weet nie, vra enigeen oor 45 hulle sal vir jou kan sê wat was die wet van Transvaal. Sela!

