Midvaal se mooie Monique Taylor
Monique Taylor pak alles met oorgawe aan en dien die gemeenskap met hart en siel.
MIDVAAL. – Monique Taylor is ‘n vrou met vele talente en ‘n hart van goud wat weet hoe om verskeie rolle met een slag meesterlik te vertolk.
Sy was maar vier maande oud toe haar ouers na Henley-on-Klip verhuis het, en sedertdien het sy nog nie die Vaal verlaat nie.

Haar laerskooldae het sy aan die destydse Laerskool Dr. Verwoerd (vandag Laerskool Midvaal) spandeer. In 2000 het sy haar matriek aan die HTS Vereeniging geslaag.
Op daardie stadium wou sy medies gaan swot en die plan was dat sy in 2001 universiteit toe sou gaan.
“Daardie Desember het my pa hulp benodig in sy konstruksiemaatskappy. Ek het gaan uithelp vir die vakansie, maar toe interesseer die werk my so dat ek nou nog daar is. Dis net ongelooflik wat alles met metaal gedoen kan word,” vertel sy.
Monique en haar man, Vaughn was saam op laerskool. “Nee, lag sy, ons het nie toe al uitgegaan nie. Hy was die ‘cool’ outjie op laerskool wat in sport uitgeblink het. Ek was die nerd.”
Die twee het mekaar na skool by ‘n funksie raakgeloop, en vandag is hulle al 13 jaar getroud en het ‘n seun en dogter.

“My kinders kry hul sporttalente van hul pa. Hy speel steeds klubkrieket. Ek doen net die nodige oefening om darem fiks en gesond te bly,” erken sy.
Monique is nie net bekend in konstruksiekringe nie. So ‘n paar jaar gelede het ‘n vriendin haar omgepraat om aan die Vaal Pageant deel te neem.
“Ek wou eers nie. Ek is dan glad nie die pageant-tipe nie, maar toe skryf ek maar in ‘n dag voor die sluitingsdatum en word wraggies as ‘n finalis gekies. Die maatskappy se werkers het so gelag toe hulle dit hoor,” onthou sy.
Alhoewel sy geen idee van modelwerk gehad het nie, het sy besonder goed gevaar en onder die top drie geëindig.
Daarna was sy ook ‘n Mrs SA finalis. Onlangs het sy gehoor dat sy een van net sewe finaliste is vir die Mrs Royal International-kompetisie.
Die finaal vind op 26 November by die Hilton Hotel in Sandton plaas. Die wenner van hierdie kompetisie kwalifiseer vir Mrs World wat in Miami gaan plaasvind.
“Ek word hierdie jaar 40 en dit sal my grootste verjaardaggeskenk ooit wees as ek die Mrs Royal International-titel kan verower. Ek het gehoor Mrs World gaan in die vorm van ‘n realiteitsprogram opgeneem word en elke deelnemer gaan oral gevolg word deur ‘n filmspan, kompleet met ‘n lyfwag,” brei sy uit.
Alhoewel sy opgewonde is oor die vooruitsig, gaan dit vir Monique oor veel meer as die titel. Mrs Royal International is ook ‘n werkstitel wat haar die geleentheid bied om die projek naaste aan haar hart te bevorder.
“Ek het ‘n baie sagte plek vir vrouens wat emosioneel en fisies mishandel word. Dis hoekom ek by Project Rage betrokke geraak het. Die stigma van stilbly moet gebreek word
“Ek glo nie daaraan om net te sit en mooi lyk nie, ‘n mens moet inspring en doen ook,” sê sy beslis.
Dis hoekom haar kinders ook al van kleintyd af by liefdadigheidswerk betrokke is. “Ons as gesin doen saam gemeenskapsprojekte. Hulle moet leer dat mens betrokke moet raak as jy iets wil verander.”
Monique is ook al geruime tyd betrokke by laerskole waar sy meisies meer inlig oor alles omtrent menstruasie, geslagsgebaseerde geweld en seksuele gesondheid.
Dan ruim sy ook tyd in om gereeld as seremoniemeester by verskeie geleenthede op te tree. “Man, ek het mos ‘n gawe gekry om te kan praat. So ek geniet dit.
“Verder is ek baie pedanties op tyd en orde en weet hoe om ‘n funksie wat langs die spoor begin draf, weer op dreef en tyd te kry.”
Monique weet hoe om kalm te bly in enige situasie en hanteer alles met haar goeie sin vir humor en sjarme. Met haar grootste ondersteuner, Vaughn altyd daar om haar by te staan, gaan sy nog groot hoogtes bereik.
